LANDBOU NUUS - ’n Plaas in die Gouda-omgewing is onder kwarantyn geplaas weens 'n moontlike uitbreking van bek-en-klouseer (BKS). Die kwarantyn geld vir ‘n 10km radius rondom die plaas.
Dit beteken dat geen diere in of uit die omgewing mag beweeg nie en dat alle biosekuriteitsmaatreëls toegepas moet word. Volgens die Wes-Kaap Bek-en-Klouseer Werkgroep is monsters na ‘n laboratorium gestuur vir toetse en resultate word tussen 5 en 7 dae verwag.
Indien die toetse positief is, sal dit die eerste geval van BKS in die Wes-Kaap wees.
Volgens 'n verklaring van die Wes-Kaapse Landboudepartement, het 'n boer in die Vrystaat op 1 November vermeende BKS-letsels by beeste gerapporteer wat onlangs vanaf die Gouda-gebied in die Wes-Kaap vervoer is. Die plaas in Gouda is in reaksie hierop onder kwarantyn geplaas.
Tydens inspeksie het veeartse vermeende letsels in die diere se bekke waargeneem.
Nog twee eiendomme, geleë in die Velddrif- en Bredasdorp-gebiede, waarvandaan beeste op 30 Oktober verskuif is, is ook onder kwarantyn geplaas en sal ondersoek word, het die departement gesê.
"Die oorsprong van die moontlik besmette beeste word steeds ondersoek. Die vervoerder wat die diere vervoer het, word ondersoek, en alle eiendomme wat die afgelope 30 dae met hierdie vervoerder in verband gebring kan word, sal gekontak en geïnspekteer word."
Werkgroep vergader
Die BKS-werkgroep het gister, Woensdag 5 November, ’n dringende vergadering beroep ten einde die onsekerheid rakende BKS in die Wes-Kaap aan te spreek.
Rojeanne de Wet, Agri Wes-Kaap se skakelbeampte, het in ’n verklaring na die vergadering gesê die Wes-Kaapse Departement van Veeartseny het die groep toegespreek.
“Daar is steeds verskeie onsekerhede rondom die maatreëls wat in plek gestel moet word sou 'n positiewe uitslag verkry word. Deurlopende skakeling en die deel van inligting deur alle rolspelers poog om hierdie onsekerhede uit die weg te ruim.
"Ons doen 'n beroep op alle rolspelers en produsente om hul bystand hiermee te verskaf. Dit is duidelik dat sekuriteitsmaatreëls ernstiger aandag sal moet geniet,” het De Wet gesê.
Die werkgroep het die volgende versoek aan boere en ander rolspelers uitgestuur om verspreiding van BKS te voorkom:
- Elke plaas se biosekuriteit verskil en daarom is dit belangrik om met jou buurman te kommunikeer oor wat elkeen doen om jul omgewing te beveilig.
- Behalwe trokke wat op plase aanland, moet produsente ook die bakkies wat op die plaas rondry, ontsmet.
- Dit is belangrik dat die arbeiders van die plaas ook ingelig en opgelei word oor die moontlike verspreiding van die siekte.
- Dit is belangrik dat daar gereelde kommunikasie is met die departementele veeartsenydienste in jou omgewing sowel as private veeartse.
- Maak gebruik van die departementele vraelys om die regte dokumentasie in plek te kry. Die vraelys is hier beskikbaar.
De Wet het beklemtoon dat produsente moet seker maak dat alle inligting, boodskappe en verklarings rakende BKS vanaf die regte en geverifieerde bronne en platforms af kom.
“Daarom doen die werkgroep 'n beroep op alle produsente om betrokke te wees by georganiseerde landbou en hul bedryfsorganisasies sodat hulle ingelig kan bly oor die stand van BKS. U betrokkenheid maak ons hand sterker en ons praat uit een mond.”
Die werkgroep bestaan uit alle rolspelers in die rooivleisindustrie, onder andere die Departement van Landbou, Wes-Kaapse Veeartsenydienste, Rooivleisprodusenteorganisasie Wes-Kaap (RPOWK), Agri Wes-Kaap (AWK), Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), Melkprodusenteorganisasie (MPO), Landbouprodukte-agenteraad (APAC), Suid-Afrikaanse Vereniging vir Lewendehawe Afslaers (SAFLA) en die Abattoir-vereniging.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’