Dit is die mening van die Weskaapse LUR vir Landbou, Ekonomie Ontwikkeling en Toerisme, minister Alan Winde, wat die Boerevereniging op Herbertsdale op Donderdag 2 Oktober toegespreek het.
Hoewel hy maar afgelope drie maande vir die landbou-potefeulje verantwoordelik is, het die minister hom ten doel gestel om die bedryf deeglik te leer ken. As bewese entrepreneur doen sy departement tans 'n risikobepaling van die ganse provinsie en het hy hom daartoe verbind om grondhervorming een van sy hoofdoelwitte te maak.
"Ek ondersteun die Nasionale Ontwikkelingsplan en glo dat ons die grondhervormingsteiken oor die volgende 15 jaar na 20% in die Wes-Kaap moet opskuif sonder om die landbou-ekonomie enige skade aan te doen," berig Minister Winde.
Drie maande
"Ek gee die landbougemeenskap drie maande om georganiseerd te raak. Verandering en hervorming kan nie werk as die regereing die leiding moet neem nie; dit moet privaat gedrewe wees. Landbouers moet in distriksraadsverband hulself organiseer en met voorstelle en hervormingsmodelle na die tafel kom," het Minister Winde genooi.
'n Deel van die navorsing wat sy departement tans doen, is om vas te stel watter persentasie van staatsgrond vir grondhervorming aangewend kan word.
"Opleiding en kennis moet intussen effektief oorgedra word. Banke en die regering moet geld in die sisteem belê, en na drie maande sal die provinsiale owerheid projekte loods om nasionale regeringsfondse vir grondhervormingsprojekte te bekom."
Tweede projek
Die tweede projek wat Minister Winde geloods het, is Trots Landbou. Hy is van mening dat die handelsmerk, oftewel brand verander moet word sodat begrip van die belangrikheid van die Wes-Kaapse landbou vir die nasionale ekonomie duidelik sal blyk.
"Ons moet 'n handelsmerk bou wat die jeug as toekomstige landbouers na die bedryf sal lok. Geleenthede in landbou is groot," het Minister Winde benadruk.
Grondhervorming kan nie in 'n vakuum gebeur nie. Daarom, volgens die minister, moet daarop gefokus word om nuwe markte vir landbou te bou. Tans is daar reeds 'n 24% groeikoers van landbouprodukte in Afrika.
"Die stryd gaan nie net oor grond nie, dit gaan oor die hele waarde-ketting," aldus Minister Winde.
Talle van die landbouers teenwoordig het die minister die versekering gegee dat hulle grondhervorming as sodanig ondersteun, maar dat hulle van mening is dat die regering na landbouers moet luister. Daar is ook gevra dat die regering grondhervorming nie in 'n vakuum moet sien of afdwing nie, maar dat verwante wetgewing en prosesse aangespreek moet word om die landbouer in staat te stel om optimaal te boer.
Voorsitter van die Herbertsdale Landbou Vereniging, mnr Kolie Britz, het die talle borge wat die verrigtinge moontlik gemaak het, te wete Sentraal Suid Koöperasie (SSK), First National Bank, Sanlam Mosselbaai, Mosselbaai Toyota en Jakkalsvlei Wyne, hartlik bedank. Hy het ook vir Ilse Muller en haar helpers, wat vir die pragtige tafelversierings en versorging van die saal verantwoordelik was, asook die mans wat vir die braaivleis verantwoordelik was, bedank.
Die genotvolle aand is afgesluit met 'n heerlike ete wat by keurig gedekte tafelsin 'n pragtig versierde landbousaal voorgesit is.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Mnr Nico de Wet van die Sentraal Suid Koöperasie, mnr Hennie Floors van die Voëlvlei Werkersvereniging, die gasspreker, die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomie Ontwikkeling en Toerisme, Minister Alan Winde, mnr Tiaan Tredoux van Blue Bay Blue Star Sanlam en mnr Jantjie Jonker van Jakkalsvlei, pas voor die aand se verrigtinge begin het.

Hennie van der Merwe (links), saam met Raadslid Jim van der Merwe, Jan Labuschagne, Peet Britz, Lieb Liebenberg en John Daniels by die Herbertsdale Landbou-byeenkoms saam met die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomie Ontwikkeling en Toerisme, Minister Alan Winde.

Ilse Muller, verantwoordelik vir die keurig versierde tafels en saal, ontvang 'n blyk van waardering vir haar harde werk van die Herbertsdale Boerevereniging. Minister Winde het die oorhandiging waargeneem terwyl mnr Kolie Britz toekyk.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'
Foto's: Nickey le Roux