Maak soos Zille voorstel, skryf:
Die munisipaliteit redeneer waarskynlik dat hul inwoners analfabete is.
Elektrisiteit was nog altyd die hoofbron van inkomste, en met die Eskom-debakel is munisipale inkomste dus in gedrang.
Om nou voor te gee dat die drastiese verhoging in eiendomsbelasting die gevolg van die een of ander werkstudie is, is om wol oor die oë van inwoners te trek.
Die werklikheid is dat alternatiewe bronne vir inkomste dringend gesoek moet word, en wie anders as die sogenaamde welaf huiseienaars moet die spit afbyt?
Weet gerus; geen huis in Mosselbaai kan meer 'n munisipale waardasie van minder as R81 000 hê nie, maar duisende – letterlik duisende – huise is gewaardeer om nét onder daardie perk te val. Hoekom?
Sodat daardie inwoners geen beskikbaarheidsfooie vir water of sanitasie hoef te betaal nie, gratis eenhede krag kan kry en geen eiendomsbelasting hoef te betaal nie.
Kyk na buurdorpe waar die eerste R150 000 van eiendomswaardasies van belasting vrygeskeld is en vergelyk self of Mosselbaai-munisipaliteit uitbuiters is?
Die artikel Verhogings in perspektief gestel verwys. Wys my die eiendomme in Mosselbaai wat R750 000 gewaardeer is? Onthou, waardasies word op markwaarde gedoen.
Soos met die grafkoste, kom dit voor of die munisipaliteit geldgierig is en die reeds vuisvoos middelklas nog meer wil belas omdat hulle eenvoudig nie die werklike probleem aanspreek nie: duisende, derduisende inwoners wat daarmee wegkom – en selfs gehelp en ondersteun word – om nie 'n sent vir dienste of belastings te betaal nie.
Wel, hierdie cash cow gaan nie verder betaal nie, en ek doen 'n beroep op ander inwoners om ook geen verdere belasting op eiendomswaarde te betaal nie. Betaal wel vir dienste.
Kyk hoe word inkomste aangewend – oorwegend om die munisipaliteit se reeds fat cats-salarisse te betaal.