VERMAAK NUUS - 'n Liedjie wat die harte en ervaring weergee van boere wat onder die droogte gebuk gaan of al deur erge droogte geraak is, word komende Vrydag, 14 Julie, vrygestel.
Jovan van die bekende George-gebaseerde sangduo, Jovan en Thelma, het die liedjie, Boer se Gebed, gekomponeer.
Die paartjie, wat al sedert 2003 saam optree en vir hulle groot naam gemaak het, is ambassadeurs vir SA for Hope, 'n nie-winsgewende organisasie wat droogte- en humanitêre hulp aan Suid-Afrikaanse boere verleen.
Jovan sê SA for Hope en die uitgebreide droogte- en humanitêre hulp wat hulle aan boere verleen, lê vir hom en Thelma baie na die hart en dit was die groot inspirasie agter die liedjie.
"Met elke uitreik na die boere kon ons die woorde van hierdie liedjie op elke boer se gesig en in hulle oë sien, want al wat hierdie boere oorhet, is gebed. Ek glo die liedjie sal 'n groot verskil maak in die lewens van hierdie boere en hulle families."
Volgens Pieter du Plessis, direkteur van SA for Hope, is hierdie twee gewilde George-musikante se harte oop vir SA for Hope.
"Hulle betrokkenheid by SA for Hope stop nie by musiek nie, maar hulle rol hulle moue op met fondsinsamelingsprojekte, die op- en aflaai van voertuie, saamry op uitreike en selfs koue storte in wintertyd in die hartjie van die Karoo. Hulle is plat-op-die-aarde, omgee mense met groot harte vir hul medemens," sê Du Plessis.
Jovan en Thelma se eerste album, Rondomtalie Liefde, het in 2010 sy buiging gemaak. Hierna het hulle hul vlerke gesprei en die internasionale mark betree waar hulle vir vyf jaar weens populêre aanvraag in Indië opgetree het.
Jovan sing tans in Amerika en sal later vanjaar terug wees in Suid-Afrika, waarna die duo hul optredes in Suid-Afrika sal hervat. Die liedjie se skakel is van Vrydag, 14 Julie op SA for Hope se Facebook-blad en op hul webtuiste, www.saforhope.co.za beskikbaar wees. Die video is afgeneem deur Wessel van Heerden.
Kyk die video hier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’