Die fees het begin toe die 'brass band' blaasorkes die terrein betree het. Lorette Brown van die Departement Landelike Ontwikkeling het 'n openingstoespraak gelewer, gevolg deur Reginald, wat Voorsitter van die Ontwikkelingsforum op Friemersheim is.
Daar was menige stalletjies wat heerlike disse soos kerrie en rys, roti, afval, pannekoek, potjiekos, asook gebraaide varkjops aan al die besoekers verkoop het. Gaste kon heerlik onder die koelte van die groot boom sit en eet.
Daar was ook stalletjies waar naaldwerk, plaaslike heuning, tuisgebak en kunswerke ten toon gestel is.
Mordegai Erasmus, 'n solo sanger en gitaarspeler, het gesorg vir vermaak terwyl die mense deur die stalletjies beweeg het en die span van Fiesta op KykNet is ook tussen die gaste opgemerk.
Die mark was nie net op een plek gevestig nie, maar besoekers aan die dorp kon met gemak deur die strate beweeg waar daar nog stalletjies was. Sodoende kon besoekers die mense van die omgewing ontmoet, onder andere, Oom Adam Nortje wat die pragtigste mosaic spieël skoene maak.
Irma Jacobus van Friemersheim Gourmet Catering het Karen Hart, die gaspreker, in 'n swierige saal onthaal, waar die gaste aan smaaklike happies soos vrugtekebabs en allerlei klein tertjies kon proe. Die gaste het ook elkeen 'n pragtige handgemaakte sleutelring van krale as geskenk gekry.
Volgens Reginald is die gemeenskap voornemes om gereeld so 'n Plaasmark te hou.
Friemersheim se kleuters kon die snoeptafel nie weerstaan nie.
ARTIKEL EN FOTO'S: ELAINE VAN DER TOORN