Route 57 het onlangs die lig gesien, in assosiasie met internasionale gholfster (en natuurlik ons eie plaaslike trots), die Ope kampioen Louis Oosthuizen en twee bekende gesigte in die restaurant-bedryf, Ilze Nel en Anzelle Zeelie.
Die amptelike openingsfunksie het Donderdag, 18 Oktober plaasgevind en dit was 'n reusesukses.
Die naam Route 57 is afgelei van Louis se laagste rondte ooit by Mosselbaai Gholfklub op 12 Desember 2002 - 'n ongelooflike 57 (15 onder baansyfer)!
Die restaurant se interieur spreek boekdele.
Louis se verskeie toernooie word teen die mure uitgebeeld, danksy Mural Arts se spogwerk. Styl en eenvoud som die dekor perfek op.
'n Ruim seleksie van watertand disse en goeie wyne is beskikbaar. Gaan maak gerus 'n draai by die ongelooflike restaurant in Marshstraat om dié weelde eerstehands te ervaar.
Route 57 het Dinsdag, 23 Oktober amptelik vir die publiek geopen.

'n Voorsmakie van die stylvolle interieur van Route 57... Foto: Lindie Schraader

Louis onthul die ingangsportaal foto tydens die openingsfunksie van Route 57. Foto: Kolie Visser

Die dryfkrag agter Route 57 - Bertu en Ilze Nel, saam met Louis Oosthuizen en Anzelle Zeelie voor die ingangsportaal. Foto: Kolie Visser
ARTIKEL: LINDIE SCHRAADER, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS