VERMAAKNUUS - Nuwe en opwindende inhoud word heeltyd in die Virtuele Absa-kuierkamer beskikbaar gestel.
Ses koffietafelgesprekke deur die bekroonde aanbieder en akteur Hannes van Wyk, word in die Koffiewinkel van die Virtuele Absa-kuierkamer aangebied.
Dié reeks vorm deel van die program vir vanjaar se digitale Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).
“Die eerste vier episodes (van ses), is nou beskikbaar en kykers kan dit in die gemak van hulle eie huise geniet. Onderwerpe wat tydens hierdie episodes bespreek word, sluit die invloed van Covid-19 op die kunste en die toekoms van die kunste in,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
In episode een gesels Van Wyk met prominente individue in die vermaaklikheidswêreld oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die kunste. Hulle praat oor die verwoestende uitwerking van dié pandemie en kyk na moontlike oplossings, asook die pad vorentoe. Theart, Fahiem Stellenboom (bemarkingsbestuurder van die Baxter-teater), akteur Marion Holm en Thabang Monoa (kunskurator en lektor) sluit by hom aan.
Tydens die tweede gesprek gesels Van Wyk met Marlene le Roux (uitvoerende hoof van Artscape), Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Jana Hattingh (uitvoerende hoof van die Suidoosterfees) en Andy Lubbe (feesdirekteur van Innibos) oor die toekoms van teater, die kunste en die vermaaklikheidsbedryf. Hulle soek na antwoorde en stamp soms koppe, maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Of is daar?
Akteurs Lizz Meiring, Bongi Mthombeni, Cintaine Schutte en Richard September deel in episode drie hulle ervaring oor hoe moeilik dit is om in ’n eenmanvertoning te speel. Die paneel gesels oor die vermoë van ’n akteur om enige rol te kan vertolk en tot hoe ’n mate akteurs beperk word.
Drie akteurs uit die Kaapse sepie Suidooster, Jill Levenberg, Gantane Kush en Denise Newman, gesels in die vierde episode met Van Wyk – self jare deel van die sepie Egoli: Plek van Goud. Dit is ’n heerlike kuier en blik op wat agter die skerms gebeur. Die akteurs deel met kykers hulle lewe weg van die kameras af.
Episode vyf werp lig op hoe daar in hierdie moeilike tye ’n bestaan in die vermaaklikheidsbedryf gemaak kan word. Pieter-Jan Kapp (besturende direkteur van PJK Production Management), Margit Meyer-Rödenbeck (aktrise en eienaar van Die Boer), Willem Botha (sanger en entrepreneur) en akteur Heine Poole deel meer oor wat hulle doen om te oorleef en of dit eerder nodig is om ander beroepe en rigtings te ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'