MOSSELBAAI NUUS - Johnnie Campher, bekende stand-up komediant, is terug met 'n splinternuwe produksie naamlik, Alles wat Malles.
Net soos sy vorige komedietreffers beloof die een ook om hoogs vermaaklik te wees. Met ‘n titel soos Alles wat Malles, kan gehore hope kwinkslae verwag.
Die komedie bied ‘n satiriese blik op die Suid-Afrikaanse samelewing. In hierdie komedie is Johnnie snaaks in die ergste graad. Hierdie grapmaker het net daardie verstommende vermoë om die mees eenvoudige situasie lagwekkend te maak of mense spottenderwys uit te beeld. Niks of niemand word gespaar nie. Hoe dan anders?
Party mense maak dan die koddigste karakters. Van die begin tot einde van die produksie is daar nie ‘n vervelige oomblik nie. Elke aksie of sêding sal ‘n glimlag of lagbui ontlok. Johnnie Campher het die kuns van komedie vervolmaak. Hy het sy eie klas van humor en dit doen hy met styl.
Anders as ander komediante wat net op die verhoog staan en probeer snaaks wees, is dit vir Johnnie die mees natuurlikste ding om te doen. Hy is immers 35 jaar reeds in die vermaaklikheidsbedryf. Die verrassingselement is altyd sy troefkaart in sy produksies.
Johnnie is 'n meester wanneer dit by die vertolking van verskillende karakters kom en op die verhoog is hy die toonbeeld van energie en kreatiwiteit.
Johnnie Campher sal op 31 Mei om 19:00 by die D’Almeida-gemeenskapsaal in Mosselbaai optree. Toegang is R50 per persoon. Kaartjies is beskikbaar by Ida (072 643 1831), Thurston (082 407 6888) en Skrefies (076 563 2892).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'