GEORGE NUUS - Die Klein Karoo Kunstefees se visuele kunsteprogram is saamgestel deur die nuwe visuele kunskurator Lucia Boer. Vanjaar se fees vind plaas vanaf Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April op Oudtshoorn.
Boer sê alhoewel die spreekwoord lui, "Moenie krap waar dit nie jeuk nie," het kuns presies die teenoorgestelde uitwerking. "Hoe meer jy daarvan sien, hoe meer wil jy daarvan weet. Dit laat jou werklik krap waar dit jeuk."
Groepuitstallings
Groepuitstallings wat fokus op drukwerk is onder meer dié van die Artist Proof Studio - Invest in the best, wat al die afgelope 27 jaar kunstenaars in drukkuns oplei, wat werk van jong en gevestigde kunstenaars uitstal.
Die Walter Battiss Company stel outentieke kopieë van oorspronklike kunswerke van die meestersydrukkunstenaar, Walter Battiss aan feesgangers beskikbaar.
Ander groepuitstallings op die program is Age of Innocence onder kuratorskap van Nadja Daehnke; The Creative Block onder kuratorskap van Tamlin Blake en bestuur deur die Spier Arts Trust; True Self: Open Dialogues onder kuratorskap van Tlotlo Lobelo.
Selected works, onder kuratorskap van Stephan Erasmus waar 'n versameling van kunswerke deur 'n verskeidenheid jong en gevestigde kunstenaars uitgestal word en Vuurdans onder kuratorskap van Elfriede Dreyer. Dié uitstalling fokus op die vernietigende brande wat in Junie 2017 in die Tuinroete gewoed het.
Straatfoto's te koop
Aspire Art Auctions hou deur die loop van die fees aanlyn kunsveilings waar feesgangers op kunswerke kan bie. Kunsliefhebbers kan ook hier hul kunswerke gratis laat waardeer. Iwasshot in Joburg is die uitvloeisel van 'n gemeenskapsprojek wat straatkinders oplei in die kuns van fotografie.
Daar is 'n fotohokkie by die uitstalling waar feesgangers hul foto's kan laat neem, en fotograwe wat op die terrein foto's neem, bied dié foto's te koop by die Prince Vincent-gebou aan.
Maakit Mooi
Met Maakit Mooi vaar Absa L'Atelier-kunstenaars, onder leiding van dr. Paul Bayliss, in Oudtshoorn in om permanente funksionele werke te installeer. Absa gee met dié inisiatief erkenning aan die dorp vir die rol wat dit in die ontwikkeling van die kunste speel.
Hierdie kunswerke kan daagliks as deel van 'n rondleiding met dr. Bayliss besoek word. Hierdie rondleidings vertrek vanaf die Absa Rooiplein in die Kuierbuurt.
Gesprek
Boer tree ook daagliks om 11:00 by die Prince Vincent-gebou in gesprek met die kunstenaars wat by die fees uitstal. Elke gesprek fokus op 'n ander kunstenaar en die relevante temas van hul werk word bespreek. Hierdie rondleidings word gratis aangebied.
Al dié kunsuitstallings kan daagliks tussen 09:00 en 17:00 gratis by die Prince Vincent-gebou besoek word. Op 2 en 4 April open die uitstallings om 10:00.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House and Home.
Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'