Dit is met reëlmaat dat ons hoor van mense wat die hand aan eie lewe slaan en verkies om hierdie wêreld te verlaat.
Of dit nou internasionale bekendes is, ons eie sosiale media persoonlikhede, studente of 'n skoolvriend uit jou jongdae, dit ruk mens tot stilstand.
Die bekende Amerikaanse akteur, Robin Williams, word beskou as een van die beste komediante wat die wêreld nog opgelewer het. Tog het die "swart hond" hom bekruip en het hy in 2014, op 63-jarige ouderdom, selfdood gepleeg.
By dié wat agterbly, is daar 'n lewenslange letsel van pyn, smart, verlies.
Gebeure die afgelope 20 jaar en spesifiek die Covid-pandemie, het baie mense oor die afgrond van "normaliteit" gestoot. Middelklas mense wat nou in armoede leef weens werksverliese, die dood van 'n broodwinner, maandelange rondslomp met uitbetalings ná afdankings. Noem maar op, mense kry swaar. En as jy nie geld het nie, word jou geestelike reserwes vinnig uitgeput.
Só is dit dan ook dat talle mense wat "normaal" voorkom, wel op 'n tipe anti-depressant of "mood enhancer" is.
Dit is 'n wonderlike hulpmiddel wat die mensdom help om die gekheid óm jou te hanteer, uit te hou en aan te hou. Wat interessant is, is dat mense dikwels gestraf word deur die samelewing as jy iets gebruik om jou brein te help om die aanslae van die lewe te verduur.
Dis in orde om jou liggaam fiks te probeer hou en allerhande middels te gebruik om maerder, sterker en jonger te bly. Maar, om dieselfde met jou brein te doen, word nie altyd aanvaar deur dieselfde instansies wat vir dekades maandeliks van jou geld neem om, indien jy omkap, iets vir jou naasbestaandes te los nie.
Nee, hulle straf jou as jy op 'n "mood enhancer" van enige aard is. So word daar ná 'n 25 minuut lange gesprek en vrae tot in jou voorgeslagte oor jou gesondheid, vir jou gesê jy is nou wel verseker vir al die siektes, maar omdat jy op 'n anti-depressant is, mag jy nie selfdood pleeg nie, dit word met 'n spesiale klousule uitgesluit.
Huh? Tot nou toe het jy nog nie daaraan gedink nie, maar nou word dit so bietjie van 'n kwessie. Met ander woorde as jy nou, soos Robin Williams, net nie meer kan nie en oor die afgrond gaan, kry jou naasbestaandes en begunstigdes nie 'n sent nie. Of jy nou 50 jaar aan die polis betaal het, of nie.
Overgeset synde, as jy depressief is, neem niks daarvoor nie, neem 'n polis uit en ons sal wel uitbetaal as iets gebeur. Dit is tog 'n onsinnige besigheidspraktyk wat dringend hersien moet word?
Iewers moet daar tog 'n plan gemaak word sodat die geldreuse nie al hoe meer kry en die gewone mense in die modder van ellende vasval en baie keer die dood as uitweg kies nie. Het geld dan die enigste norm geword om menswaardig te wees? Die lewe soos ons dit geken het, is lankal verby.
Die wêreld, Suid-Afrika, gemeenskappe, ons, moet mekaar help, ophef, hande vat en saam oorleef. Nou gaan dit oor oorlewing en om geestesgesond te wees, nie om jouself, ten koste van ander, te bevorder en te verryk nie.