OPINIE - Die onlangse voorvalle ná afloop van die Bridgton/Evergreens-kragmeting op Oudtshoorn het die rugbygemeenskap baie vrae laat vra.
Met die skryf van hierdie stuk was die SWD-bestuur en alle betrokkenes nog agter geslote deure, terwyl die Suid-Kaapse rugbygemeenskap angstig op antwoorde wag.
Klubrugby in die SWD is oor die jare nog altyd ’n groot trekpleister gedurende die rugbyseisoen.
Naweek ná naweek trek die onderskeie klubs se ondersteuners in hul duisende op om hul spanne te ondersteun.
Ten spyte van sommige dae se gure weersomstandighede, daag hulle nogtans op. Die hoogtepunt is wanneer die A-spanne kragte meet.
Die skeidsregter en sy twee lynregters is diegene aan wie die taak toevertrou word om toe te sien dat die spelers volgens die reëls speel.
Soms is die skeidsregter nie die gewildste persoon by sekere klubs en hulle ondersteuners nie, dan bou emosies op wat dikwels na konflik tussen die verskillende klubs lei.
Oor die jare was dít nog altyd ’n knelpunt by baie klubwedstryde, en tot dusver is daar nog nie ’n gepaste oplossing vir hierdie voortslepende probleem gevind nie. Die ergste is wanneer onskuldiges seerkry - selfs met noodlottige gevolge.
Die norm is dat die unie se dissiplinêre komitee intree en dat die skuldiges dan ’n boete en soms ’n skorsing in die gesig staar; dit sluit natuurlik ook die betrokke klubs in.
Die vraag is egter of hierdie boetes of skorsings mettertyd enigsins ’n oplossing was? Met vandag se tegnologie kan baie voorsorgmaatreëls in plek gestel word.
Dus is dit van kardinale belang dat klubs en die unie aan ’n gesamentlike voorkomingstrategie moet saamwerk.
Die waarheid is dat daar baie risikofaktore is wanneer ’n groot skare nie beheer kan word nie.
Die rugbygemeenskap in die Suid-Kaap voel sterk hieroor. Met die oorblywende ligawedstryde en die aanloop tot die semifinale sal die klubs in samewerking met die moederliggaam beslis hul sekuriteit moet opskerp om alle wedstryde ordelik te laat verloop.
*Charles lewer sportnuus aan Mossel Bay Advertiser.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’