OPINIE - Verbeel jou jy sit in 'n restaurant met jou vriende en familie en 'n vreemdeling kom staan by die tafel en neem luidkeels deel aan julle gesprek. Dis hoe sosiale media partykeer vir my voel.
Sosiale media... daar waar jy lekker agter 'n skerm kan sit en jou opinies aan die groot klok kan hang, soos die ou mense gesê het.
Maar dit het my laat dink... as duisende groot klokke op een slag lui, gaan al die mense doof raak.
En as iemand jou nie hoor nie, praat mens mos maar harder… maar ek wonder of dit regtig help?
Dit het my laat dink. Ek persoonlik is geneig om op te hou luister as iemand op my skreeu, so as ons almal heeldag op mekaar skreeu, gaan niemand meer na mekaar luister nie.
Maar 'n opinie is net dit... 'n sienswyse of beskouing van iets of iemand, nie noodwendig op grondige kennis gebasseer nie.
Maar ons almal se opinies is geldig, en ons almal is geregtig op 'n opinie. So ons gryp na daai selfoonkamera of trek die ‘keyboard’ nader - baiekeer sonder om ons opinies te deurdink, want ons het nodig om gehoor te word.
En ek wonder of ons nie al hoe meer voel dat ons nie gehoor word nie, omdat al die groot klokke so hard lui...
Vrywaring: Die menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die outeur en weerspieël nie die menings of standpunte van Group Editors en sy publikasies nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’