'n Mens kan jou skaars die desperate angs voorstel om in 'n beknopte ruimte in die 22-voet onderwatervaartuig vasgekeer te sit, die ure af te tel en te wonder of jy betyds gered gaan word? Daar was sekerlik groot opgewondenheid oor die avontuur om uiteindelik na die Titanic-wrak te gaan kyk wat reeds in 1912 'n watergraf, sowat 3km diep, op die seebodem gevind het. Met 'n donker watermassa om jou, bitter min kosvoorrade en suurstof wat by die uur minder raak, kan mens jou skaars die desperate hel voorstel wat die vyf mense oomblik vir oomblik beleef, terwyl hulle letterlik sit en wag vir die dood.
Wat sou hulle vir mekaar sê soos elkeen deur die proses van angs, woede, magtelose desperaatheid, smart en uiteindelik noodgedwonge aanvaarding van hul lot, worstel. Ook hul geliefdes, familie en vriende wat angsbevange voor TV-skerms sit en die soektog teen tyd saam met die res van die wêreld dophou.
Met die skryf van die artikel was daar net sowat 10 uur se suurstofvoorraad oor vir die vasgekeerdes.
Niemand kon voorsien dat 'n ekspedisie van 'n paar uur in 'n desperate resies teen tyd sou eindig om die vaartuig, genaamd die Titan, te vind en die mense daar binne te red nie.
Geen kommunikasie kontak
Alle kommunikasie-kontak is na 'n uur en 45 minute nadat die OceanGate vaartuig met vyf mense aan boord in die water afgesak het, verbreek en die Kanadese skip wat hulle te water gelaat het, alarm gemaak het. Sedertdien het verskeie lande van oor die wêreld heen, vliegtuie, vaartuie, die mees moderne sonar en elektroniese opspoorapparaat gestuur om te kyk of hulle nie iewers die "naald in 'n hooimied" kan vind nie.
Die aantrekkingskrag om miljoene rande te betaal om na die Titanic te gaan kyk, is waarskynlik dat slegs 'n paar honderd mense al die wrak van naderby kon aanskou teenoor die buitenste ruimte wat al baie meer besoekers gehad het. Maar soos Mike Reiss (63) die skrywer van die komediereeks, Bart Simpson, wat 'n jaar gelede na die wrak gaan kyk het, aan die New York Post vertel het: "Death is always lurking, it's always in the back of your mind. Before you even get on the boat, there is a long, long waiver that mentions death three times on page one."
Kommer oor veiligheidsaspekte van die Titan
Daar is reeds geruime tyd kommer oor die veiligheidsaspek om so 'n klein vaartuig in 'n watermassa wat geweldige druk uitoefen, te laat afsak. Die vaartuigie val redelik vinnig na die seebodem en word dan met 'n videospeletjie-meganisme rondgestuur. Die stormagtige weer met 12 meter hoë deinings bemoeilik die soektog na die vermiste Titan nog meer. Ons weet nie wat die uiteinde van die tragedie gaan wees nie. Dalk verander dit in een van die beste reddingstories nog. Nietemin, is dit dalk nou die tyd om die Titanic en die ongeveer 1 500 siele wat saam na die watergraf is, in vrede te laat rus.