RUBRIEK - Dis met verbystering dat ons as Suid-Afrikaners nou weer terug in die donker dieptes van twee eeue gelede is.
Hier is ons - die juweel aan die Suidpunt van Afrika en ons kan ondanks triljoene rande om kragstasies en ander fasiliteite te bou, nie 'n basiese funksie verrig om deur die verbranding van steenkool, die ligte aan te hou nie.
Hoe ons hier gekom het, weet almal nou al, maar dat ons dit maar net aanvaar en aanhou leef asof niks fout is nie, gaan die verstand te bowe.
Ek luister so 'n paar dae gelede in die verbygaan na 'n onderhoud op KFM hoe 'n buitelander met 'n baie Britse aksent, sy ongeloof uitspreek dat ons as Suid-Afrikaners nie in algehele opstand kom teen die onbekwame, korrupte magshebbers wat ons land terug in die middeleeue het nie.
Hy reken die "probleem" is dat Suid-Afrikaners die mentaliteit het van 'n "boer maak 'n plan". Wat op sigself 'n baie goeie oorlewingsmeganisme is, maar terselfdertyd ook ons ondergang is, volgens hom.
Persoonlik dink ek ons is almal net te moeg gesukkel om regtig om te gee. Maar my redakteur het gesê my rubriek moet mense laat beter voel. So kom ons kyk wat doen mense om 12 uur per dag kragloos te oorleef.
As jy nog vleis kan bekostig, braai die mans alte graag met 'n drankie in die hand en tuur in die sekelhout-vuur, terwyl vroulief slaai maak of darem af en toe saamsit, terwyl die kinders in die donker gebad en in die bed gesit word.
As jy 'n leesapparaat of kindle het met sy eie lig en onthou het om dit in die aan-tydperk te laai, kan jy sielsalig vroegaand in die bed klim en lekker lees tot jy uiteindelik aan die slaap raak.
Die probleem kom om met die paar uur tot jou beskikking alles gelaai te kry, jou werk gedoen te kry, kos te maak en almal gereed te kry vir die volgende kraglose-sessie.
Ons het meesters geword om die tydjie wat ons wel krag het, te benut. Soos iemand op Facebook spot, ons sien nou al uit na Fase 4. So word ons stelselmatig gebreinspoel na die volgende fase, wat blykbaar 8 en hoër is.
Soos dieselfde gas op die radio gesê het, is daar net een manier om weer die lig te sien en dit is by die stembus. Koalisies werk nie, terwyl sakke vol geld uit 'n motorkattebak uitgedeel word nie (ja, dis wat in Johannesburg gebeur het).
Kom ons raak uiteindelik van die korrupte magshebbers ontslae deur vir die grootste opposisieparty te stem. Dis die enigste manier.