Die meeste van ons is groot gemaak om nie te veel waarde aan goed te heg nie. Dis aardse goed, my kind... jy kan dit nie saamneem na jou graf toe nie.
Na twee jaar van in huurhuise bly en nie jou eie goed om jou hê nie, kan ek nou onomwonde sê dat jou "goed" een van die belangrikste dinge is om waarde tot jou lewe toe te voeg.
Ontdek kleinode
Soos jy uitpak, en drie prente ontdek van ou trekkers en windpompe wat jy tydens 'n vakansie saam met jou pa en kinders by Jacobsbaai gekoop het, onthou jy, verlang en beleef weer die lekker van die vakansie, die geselsies, viskos eet op Paternoster se strand, die Weskus se sonsondergange, maar ook die oproep vroegoggend terug in Johannesburg, nadat julle hul die Sondagoggend op die plaas gegroet het, om te sê Pa-hulle is wreed aangeval, maar hulle leef.
So kom ek met die uitpak af op pragtige borde weer eens met die windpomp tema, wat ek by Sannieshof se bekende padstal gekoop het. Daar waar ons 'n dokumentêr gedoen het oor drie afgryslike plaasaanvalle in Noordwes en die slagoffers se stories van moed, oorlewing en hoop.
Onthou en verlang
Elke ding wat jy uitpak, laat jou terugdink en verlang. Elke ding het 'n storie. Die mooi tafeldoeke wat jy by Plett gekoop het tydens 'n vakansie daar.
'n Pragtige fyn wit teestelletjie wat my ma vir my as trousseau gegee het. Krokodil-gewiggies vir 'n tafeldoek wat my pa vir sy volwasse kinders gekoop het tydens 'n vakansie by die wildtuin. Al Charlie se "wilde diere" wat uitgepak word uit 'n boks. Charlie het geglo dat dit sy goeie reg is om met elke besoek 'n wilde dier by Onder-Sabie se winkel te "koop". Of sy vuisvoos moeder nou die geld het, of nie!
Ek was seker nog in die laerskool toe die predikant een aand met pinkster gepreek het oor die Bybel as besitting met die vraag wat is die eerste ding wat jy sal red as daar 'n brand uitbreek in jou huis? Nou daardie tyd was daar nie internet, selfone en google nie.
Maar om te sê dat jy jou Bybel sal red voor jou kinders, en dierekinders, is bietjie verregaande. 'n Bybel kan jy vervang, jou geliefdes nie. So verander 'n mens se siening van baie dinge soos jy ouer word en die lewe ervaar, ook oor geloof en godsdiens. En jy besef.....
Liefdesgebare
Daar is emosionele oorlewingswaarde aan goed, want goed, geskenke, is liefdesgebare, is herinneringe van lekker en hartseer tye, goeie tye, tye saam met jou geliefdes. Want as hulle eers weg is, is die verlange al wat oorbly.
En om dan verras te word deur 'n onverwagse terugblik, 'n herleef van verloopte tye, gee 'n mens weer gemoedsrus, klein vreugdes en vrede.