Cooper-ongeluk: 15-Jarige steel trok

Oomblikke voor die nooddienspersoneel op die toneel gekom het, het verskeie omstanders probeer om hulp aan die ongelukslagoffers te bied.

SUID-KAAP NUUS - Twee Britse toeriste en hul jonger familielid is baie ernstig beseer in 'n ongeluk op Paasvrydag nadat 'n tiener, wat 'n swaar voertuig wederregtelik bestuur het, in hul ligte sedanmotor vasgejaag het.
 
Na bewering het die 15-jarige seun 'n trok op Heidelberg gesteel en van wetstoepassers probeer wegjaag toe hy eers in drie provinsiale verkeersvoertuie, wat die N2 versper het in 'n poging om die trok tot stilstand te dwing, vasgejaag het voordat die trok teen 'n rooi sedan gebots het.
 
Die trok het daarna die pad aan die Mosselbaai-kant van die Cooper verkeersaansluiting verlaat en deur die vendusiekrale geploeg voordat dit uiteindelik tot stilstand gekom het. Die tiener woon op Heidelberg.
 
Die Britse toeriste, 'n man, Cleque Gik (65) en vrou, Barbara Young (64) en 'n 22-jarige vrou, Stacey-Lee Jackson van Johannesburg, is deur ambulanspersoneel op die toneel behandel nadat nooddienspersoneel meganiese toerusting moes gebruik om die man uit die motorwrak te bevry.
 
Die Britte is beide per ambulans na die Life Bay View hospitaal vir behandeling geneem. Young is intussen ontslaan. Na wat berig word is Jackson in 'n kritieke toestand per lugambulans na die Life Bay View hospitaal afgevoer.
 
Teen druktyd het die woordvoerder van die Life Bay View hospitaal, Elzaan Moelich, bevestig dat Gik en Jackson steeds in dié hospitaal se intensiewe sorg-eenheid behandel word.
 
Hofverskyning
Die 15-jarige seun is met ligte beserings na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem en is na behandeling tot en met sy hofverskyning by die Da Gamaskop-polisiestasie aangehou. Hy het op Dinsdag, 18 April in A-Hof in die Mosselbaai Landdroshof voor landdros Flip Hendricks verskyn op klagtes van onder meer voertuigdiefstal, twee klagtes van roekelose en nalatige bestuur en van die besit van gesteelde goedere.
 
Volgens die kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie, sers Kapp, het wetstoepassers die trok gevolg en probeer om die tiener tot stilstand te dwing. Die tiener het egter versuim om aan die polisie en verkeersbeamptes gehoor te gee en het deur die padblokkade wat deur die provinsiale verkeersbeamptes opgerig was, gejaag.
 
Die Suid-Kaapse woordvoerder van die SA Polisie op George, kapt Malcolm Pojé, het bevestig dat die tiener vorige veroordelings het. Die seun is met ligte beserings per ambulans na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem vir behandeling.
 
Die saak word deur sers April van die voertuig-identifikasiesentrum in George ondersoek.
 
 
Die provinsiale verkeersbeamptes se voertuie is beskadig toe die swaar voertuig, wat deur 'n tiener bestuur is, deur hul padblokkade gebars het. Foto: Dave van der Merwe.
 
 
Die tiener wat die vermoedelik gesteelde trok bestuur het, het versuim om by die padblokkade stil te hou en het deur die versperring gejaag. Voertuie van die provinsiale verkeersdienste is in die proses beskadig.  
 
Klik hier vir vorige artikels: 
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
 
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser