MOSSELBAAI NUUS - Met Januarie agter die rug, wink die eerste vriendskaplike wedstryde vir die SWD Premierliga se spanne.
Soos gewoonlik heers daar groot belangstelling onder rugbygeesdriftiges met die aanloop tot die nuwe rugbyseisoen. Op sosiale media gons dit reeds oor watter van die klubs die septer gaan swaai dié seisoen.
Gaan Groot Brak en Heidelberg vir die derde agtereenvolgende jaar weer kragte meet in die finaal?
Vir seker gaan daar ook verrassings wees, soos verlede jaar toe Blanco en Bridgeton die semi-finale gehaal het bo ander klubs wat gelyk het na die gunstelinge.
Of kan die twee nuwelinge, Seagulls van Stillbaai en Riversdal Blues ‘n opskudding veroorsaak?
Barbarians daarenteen wat in 2018 laas in die finaal was, moet ook nie afgeskryf word nie. Die nuwe bestuur in samewerking met die afrigtingspan werk hard agter die skerms om van die 2025-seisoen hul suksesjaar te maak.
Die nuwe hoofafrigter, Naz Cupido, is dit eens: dissipline en fiksheid is die kern waarop ‘n span se suksesse gebou word.
Maar, vir eers is dit nog voorbereiding en vrienskaplike wedstryde, voor die ligawedstryde in Maart afskop.
In hul eerste vriendskaplike wedstryd meet Barbarians kragte teen Groot Brak in ‘n wegwedstryd op House of Pain, Saterdag, 15 Februarie. Daarna speel Babaas in nog drie vriendskaplike wedstryde voor die liga amptelik begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’