ALBERTINIA NUUS - Rangers van Albertinia (Arra) het Saterdag, 21 April harde bene gekou teen hulle buurdorp se span, die Riversdal Blues. Hulle het tuis in 'n klipharde SWD Presidentliga-wedstryd voor 'n volgepakte stadion die Blues naelskraap met 12-10 geklop.
Nie 'n wedstryd waaroor die skare opgewonde kon raak nie, want té veel balhanteringsfoute het in die agterlyn plaasgevind. Rangers het van die afskop af probeer om die krane oop te draai, maar die Riversdallers het kant gegooi. Rangers moes alles in die stryd werp om dié een deur te trek, want die Poubloues het met een doel voor oë na Albertinia gereis; om alles op die spel te sit vir 'n oorwinning.
By die streeptruie in Arra kry spanne niks op 'n skinbord nie. Keanan Tarentaal, losskakel van die Rangers was weer 'n generaal op sy gebied en het twee prag drieë gedruk. Hy het ook een verdoel. Hy was die enigste speler wat vir die tuisspan punte kon aanteken.
Blues het nooit laat slaplê nie en die senter, Jaco Arendse kon met 'n skepskop deur die pale slaag.
Daarna het die losskakel, Chadwin Paulsen met twee kanse pale toe kort voor die eindfluitjie verbrou.
Vir Blues se A-span het Austin Sefoor en Jaco Arendse die drieë gedruk.
Blues se B-span het hulle wedstryd gemaklik gewen met 27-0. Briljante rugby is deur die jonges van Blues opgedis. Die wedstryd is gekenmerk deur pragtige hardlooprugby deur beide die voor- en agterspelers.
Wilbur Januarie het net voor die eindfluitjie die bal onderskep en byna 40m genael vir sy drie reg onder die pale. Hy het ook gesorg vir 'n bonuspunt.
Driedrukkers by Blues B-span was die senter, Wilbur Janurie; agsteman, Deon van Eeden; en skrumskakel Delano Jacobs, losskakel.
Willem Hendricks, die kaptein. Arra se B-span kon geen punte aanteken nie.
Die bestuur van die Rangers spog met nuwe korporatiewe hemde wat deur Eric Pietersen geborg is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'