MOSSELBAAI NUUS - Tydens ’n spoggerige galageleentheid by die Garden Route Casino die afgelope Saterdag, 14 Maart, is die rugbygeskiedenisboeke van Mosselbaai herskryf.
Die tradisie van die gewilde Shepherds-beker wat destyds oor Paasnaweek hier plaasgevind het, gaan nou voort as die Mosselbaai Paasfeesrugbytoernooi, of soos dit algemeen bemark word, die Mossel Bay Easter Rugby Tournament.
Die brein agter hierdie projek is Avril Ahrends, ’n bekende in sportkringe en ’n radiopersoonlikheid. Saam met hom is die energieke Lyle Brinkhuis wat vanaf kindsbeen ’n passie vir rugby het. Hulle het tydens hul toesprake hul dank en waardering teenoor al die rolspelers uitgespreek wat ingekoop het om van hierdie toernooi ’n sukses te maak.
Madge du Preez, skrywer en dogter van die legendariese rugbyafriger Willie Jeffrey, het by hierdie geleentheid ’n kort en boeiende historiese oorsig gegee rondom die ontstaan van die Shepherds-beker. Sy het ook hulde gebring aan die destydse rugbygenerasie wat baie opgeoffer het om ’n goeie nalatingskap aan die nageslag te besorg.
Die gasspreker, Hennie Baartman, verteenwoordiger van Saru (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie), het Ahrends en Brinkhuis sterkte toegewens met die hoop dat hierdie rugbytoernooi baie vir die Barbarians en die ander plaaslike klubs sal beteken, insluitende die omliggende dorpe.
Ben Brinkhuis, SWD se president, wat ook hierdie geleenheid bygewoon het, is dit eens dat die toernooi ’n goeie besluit vir die rugbygemeenskap van Mosselbaai is. Hy het die organiseerders die versekering gegee dat dit by sulke toernooie is waar baie toekomstige rugbyhelde gebore word.
Die Barbarians se voorsitter, Dewald van Rensburg, het ook sy dank en waardering teenoor die organiseerders uitgespreek en hulle die versekering gegee dat sy klub ten alle tye hulle samewerking sal gee om van hierdie toernooi ’n sukses te maak.
Die vier klubs se A-spanne wat vir die toernooi ingeskryf het is die Mosselbaai Barbarians, die Crusaders van George, Swellendam R.V.K. en Grabouw R.V.K. Die vier B-spanne is die Mosselbaai Barbarians, die Titans van Mosselbaai, Happy Hearts van Brandwag en die Mosselbaai Marlyne.
D’Almeida-stadion sal hierdie toernooi, wat oor drie weke afskop, huisves.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’