TUINROETE NUUS - Die TV-aanbieder, skrywer en stapper Erns Grundling begelei tans 'n kompetisiewenner en haar twee dogters op die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete.
Daleen Lloyd van Secunda was verlede jaar die wenner in Virseker se Stap en Ontspan-kompetisie, in samewerking met Mosselbaai-toerisme, die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete en die kykNET-program Elders.
Die prys sluit in 'n 50 km-stapervaring op die pelgrimstog, van die Louvain-gasteplaas tot in Mosselbaai. En daarna word Daleen en haar twee dogters, Natasha Rabie en Chantell Lloyd, vir 'n week lank deur Mosselbaai-toerisme bederf met alles van zipline, helikoptervlug, gin-proesessie, wildkykrit, bootvaart en vele meer.
"Dit is vir my heerlik om weer die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete te kan stap ná verlede jaar se Elders. En Gerda Stols en haar seun Hardus se ontbyt, pannekoeke en koffie met kondensmelk by die Ou Tolhuis was weereens tops!" sê Erns.
"Hier is groot opwinding en wonderlike energie voor die nuwe stapseisoen, en daar gaan vanjaar honderde stappers met rooi hoede in Mosselbaai aankom. En Daleen en haar dogters is baie gawe mense."
"Ek vind die stap baie interessant en opvoedkundig," sê Daleen.
"Die mense kyk mooi na ons en die kos en gasvryheid is uit die boonste rakke. En ek sien vir seker ook baie uit na die week in Mosselbaai se ontspan en aktiwiteite."
Van links is Chantell Lloyd, Natasha Rabie, Gerda Stols (staande), Erns Grundling en kompetisiewenner, Daleen Lloyd.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'