MOSSELBAAI NUUS - 'n Plaaslike fietsryer het op 8 Desember deelgeneem aan die uitputtende Nedbank Desert Dash in Namibië en ongeag sy ouderdom uitstekend presteer.
Sybrand Otto (55), 'n werknemer by Henra Siviele Kontrakteurs en inwoner van Mosselbaai, het die 394km-lange 24-uur fietstoer in 21 uur en 17 minute voltooi met 'n gemiddelde spoed van 18.6km/h.
Otto het in die ouderdomsgroep 50 tot 59 deelgeneem en dit solo aangepak. Met 'n 14de plek in sy kategorie het hy steeds 'n medalje huis toe gebring.
Dit was sy vyfde keer dat hy die toer aangepak het. Deelnemers het op Vrydag, 8 Desember, in Windhoek weggespring en die tog deur die nag voortgesit tot hulle Saterdag op Swakopmund aangekom het.
Deelnemers kan alleen of as spanne van twee of vier deelneem, waar die afstand dan in twee of vier skofte verdeel word. Otto verkies egter om solo deel te neem. Daar was 180 inskrywings waarvan 120 deelnemers die wedren voltooi het. Dit is geen geringe prestasie vir dié Mosselbaaier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’