MOSSELBAAI NUUS - Die suksesse wat die Suid-Kaap Sages in die laaste tyd op die gholfbaan behaal, is 'n duidelike gevolg van die entoesiasme en ywer wat sy bestuur aan die dag lê wanneer hulle 'n onderneming aanpak.
Die geslaagde Sages se vyfhoektoernooi wat Suid-Kaap verlede Maandag en Dinsdag, 25 en 26 April, op die Mosselbaai-gholfbaan aangebied het, was 'n sprekende voorbeeld hiervan.
Baie geluk aan Nic Marais en sy Mosselbaai-organiseerders vir die baie bekwame manier waarop julle die toernooi aangebied het.
Die vyfhoekige toernooi tussen Suid-Kaap, Grens, Kouga, OP en Outeniekwa het aa gevolg van Covid laas in 2019 by die Kaap St Francisbaai-gholfklub plaasgevind. Die verslapping in maatreëls het die Sages toegelaat om hul normale program in 2022 te volg en die entoesiastiese deelname aan vanjaar se toernooi is dan ook 'n aanduiding dat almal graag na die normale wil terugkeer.
'n Totaal van 100 spelers het ingeskryf vir die toernooi en na twee dae se spel was dit dan die Sud-Kaap wat die trofee kon lig met 'n gemiddeld van 58,7 stablefordpunte per speler. OP was tweede (56,1), Outeniekwa derde (55,1), Grens vierde (53,7) en Kouga vyfde (50,5).
Uitslae
In die individuele kompetisie het die volgende spelers die beste gevaar:
Dag 1
1. Eddie Daacke (SK) 38; 2. Johan Spangenberg (Out) 37; 3. John Price (OP) 36.
Dag 2
1. Frans Goosen (Kouga) 39; 2. Craig Porteous ( SK) 39; 3. Eleonor Speelman (SK) (38).
Algeheel:
1. Craig Porteous (SK) 73; 2. Dawid Gerber (SK) 70 3. Peter Fillies (SK) 70.
Naaste aan die penne oor die twee dae is gewen deur Nelus Rossouw van Kouga op 4, Jimmy Steele van Outeniekwa op 8, Willie Fouche van OP op 12 en Johan Hatting van SK op 15.
Dankie
'n Baie groot dankie aan die Mosselbaai-gholfklub vir die voorbereiding en gebruik van hul baan. Die Suid-Kaapspelers is saam met julle trots op die pragtige voorkoms van die baan en die gasvrye manier waarop julle al die besoekers ontvang het.
Daar word alreeds geskimp in die rigting van Suid-Kaap vir die aanbieding van die provinsiale toernooi en Mosselbaai-gholfklub sal beslis 'n ideale keuse vir die toernooi wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'