GHOLFNUUS - In die Suid-Kaap is die ligaspanne in volle swang. Mosselbaai-gholfklub het twee spanne in die veld. Die span onder leiding van Danie van Langelaar het goed afgeskop en reeds hulle eerste twee wedstryde met goeie gholf ingepalm.
Gordon Engelbrecht, entoesiastiese kaptein van Mosselbaai-gholfklub se ander span, se afskop was egter nie so goed nie en daar sal hard gewerk moet word om terug op die wenpad te kom.
Sterkte manne vir die res van die seisoen.
Junie loop nou vinnig ten einde en spelers wat ingeskryf het vir die winter-uitklop toernooie, sowel as die Top Sestien, moet sorg dat hulle die eerste rondte voor einde Junie afhandel. Geen uitstel vir wedstryde sal verleen word nie.
Saterdag
Woensdag, 14, Junie het triestige reënweer die spelers in Jan Tuisbly se karretjie geprop en hopelik is daar aangename ure saam met die gesin tuis deurgebring.
Saterdag, 17 Junie, was die spelers in volle sterkte terug en gretig om die vierbal alliansiekompetisie aan te durf. Die beproefde vierbal-kombinasie van Brian Power, Johan Buys, Martiens Mulder, en Joe Luggen, het hulle deeglik van hulle taak gekwyt en op 92 punte het hulle oortuigend die kompetisie gewen. Om die tweede plek wou niemand bes gee nie, maar na die uittel het Johan van den Berg, Bart Saayman, Ben Klindt en Etienne van Zyl op 89 punte as naaswenners die podium betree. ‘n Spookmaat het gehelp dat George Ferns, Colin Brown en Kurt Muller (89 punte) die derde plek inneem om nie met leë hande huiswaarts te keer nie!
Die wonderlike reënweer wat oor ons streek uitgesak het, het die baan in ‘n lushof verander.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’