MOSSELBAAI NUUS - Woensdag, 1 Maart het 196 spelers die nuwe maand met nuwe durf en moed aangepak. Bounty Wildsverwerking was soos gewoonlik op hulle pos om dit weer eens ‘n aangename dag vir ‘n ieder en elk te maak.
Die individuele stablefordkompetisie het ‘n fel stryd onder die deelnemers uitgelok. Jonathon Shelver (voorgee 6) het skitterend gespeel en op 44 punte het hy die eerste prys ingepalm.
Corné Lindeque het homself ook deeglik laat geld en op 43 punte was hy die naaswenner. Morné Hugo (voorgee 4), een van die bestendigste spelers in die klub, teken ‘n bruto-telling van 70 houe aan (42 punte) en dit verseker hom van die derde plek.
Bounty Wildsverwerking het ook gesorg dat George Ferns (41 punte), asook Dawie de Beer en Heinrich Matthee (albei 40 punte) met tevrede glimlagte op hulle gesigte huiswaarts kon keer. Dankie Div vir jou lojale bydrae elke maand.
Saterdag
Met dreigende onweer het 172 spelers Saterdag, 4 Maart hulle moed bymekaar geskraap en in perfekte weer afgeslaan. Die lowergroen baan en puik setperke het die spelers in staat gestel om uitstekende tellings aan te teken.
Wessel Brand (oudkaptein) wat in Desember 78 jaar oud word, se 78 houe vanaf ‘n 11 voorgee was briljant. Hy en sy maat Barry Tooth se 46 punte in die beterbal stableford kompetisie was genoeg om hulle as wenners uit die stryd te laat tree.
Hiervandaan moes die uittel-proses gebruik word om die ander wenners te bepaal. Op 45 punte was Johan van den Berg en Ben Klindt die naaswenners.
Nelia Botes (77 bruto-telling) vanaf ‘n 11 voorgee, het saam met Ricus Serfontein die derde plek ingeneem. Raadslid Gordon Engelbrecht en Armin Kade was vierde en Waldo en Gerhard Vorster het op 45 punte vyfde geëindig.
Die heerlike reën wat Saterdagaand en Sondag geval het, het die naweek in blydskap en vreugde laat eindig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'