MOSSELBAAI NUUS - Soms beleef die Mosselbaai-gholfklub ook tye wat groot hartseer en verdriet in ons midde plaas.
Die afgelope week het ons die tragiese nuus verneem dat die Wannenburg-familie deur erge beproewing gaan as gevolg van ‘n noodlottige motor-ongeluk waarin hulle seun Pedri in Amerika betrokke was.
Ook Johann van Langelaar en Wessel Brand is die afgelope tyd swaar beproef met die heengaan van hulle eggenotes. Vertroosting word julle toegebid in hierdie ontsettend moeilike tyd.
Woensdag
Op die gholfbaan het Danie van Langelaar sy talente behoorlik ten toon gestel deur op Woensdag, 20 April ‘n weghol-oorwinning in Denzil Kleu Eiendomme se borgdag te behaal.
Sy onaanvegbare 43 punte in die individuele stablefordkompetisie het sy opponente ver agtergelaat. Hannelie Borchardt se 40 punte was self nie te versmaai nie.
Sy het die vroue se naam hoog gehou deur as naaswenner aangewys te word. Ashwell Cameron het ook 40 punte aangeteken, maar na die uittel-proses het hy die derde plek ingeneem.
Ferdie Jonck het ook weer sy paadjie prystafel toe gevind en op 38 punte het hy die vierde plek ingeneem. Barend Kotzé (37 punte) was in die vyfde plek.
Saterdag
‘n Heerlike, verfrissende Saterdagoggend (23 April) het die groot aantal entoesiastiese spelers verwelkom. Die beterbalhouespel het André Middel en Roelof Engelbrecht hulle heel beste laat uithaal.
Op 61 houe was hulle verseker van die eerste plek. Baanbestuurder, Gavin Coleman en sy linkshandige maat, Johan van den Berg, het die wenstreep tweede oorgesteek nadat hulle die uittel teen Karools Hauptfleisch en John Blythe-Wood gewen het.
Heerlike braaipakke was ook vir Gerhard Vorster en Johan Strauss (65 houe), asook Chris Brits en David Wandrag (66 houe) beskore.
‘n Bedrywige gholfweek word in die vooruitsig gestel. Sages uit verskillende provinsies het Maandag en Dinsdag ons pragtige baan beset en ou bekendes het weer hulle opwagting gemaak. Vrydag, 29 April beloof om ook ‘n heerlike dag te wees, met die SWD Arende wat ‘n gholfdag aanbied. Vir diegene wat kan, kom deel in die pret!
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'