Video
SPORT NUUS EN VIDEO - Om 'n maraton (42 km) te voltooi, is nie speletjies nie.
Die Twee Oseane-maraton oor 58 km is ook 'n perd van 'n ander kleur, terwyl een van die grootste toetse vir padatlete die Comrades bly wat jou fiksheid, uithouvermoë en konsentrasie vir 90 km+ tot die uiterste beproef.
En dan is daar die Washie 100-myler. 'n Moordende draf oor 161 km, wat selfs ultramaratonatlete mooi laat dink aan die voordele van wiele.
Om 161 km tydens inperking in jou huis aan te pak, grens aan waansin. Net die blote gedagte is weersinwekkend.
Maar nie vir die deurwinterde Nedbank-atleet Eddie Mouton nie. Hy het pas die Washie 100-myler in die gang van sy huis in 'n tyd van 24 uur, 37 minute en 7 sekondes gedrafstap.
Sy doelwit was die 100-myler, en in die proses het Eddie die Twee Oseane- en Comrades-maraton ook baasgeraak - albei wedlope wat hy al vantevore met sukses voltooi het. Trouens, hy het al 'n silwermedalje in die Comrades losgedraf.
Gewapen met inspirerende slagspreuke teen sy binnemure, waterpunte, energiestafies en -drankies en 'n entoesiastiese ondersteuner of twee, het Eddie dié epiese tog om vyfuur die oggend aangepak. Hy het ons insig gegee oor dele van dié huisuitdaging.
Kyk video's hieronder
Hier is sy direkte verbale terugvoer (met tye) van die 70 km-merk af:
70 km (7 uur 56 minute)
"My bene raak nou seer terwyl ek die Twee Oseane-afstand nader. Ek handhaaf nou so 7-8 km per uur en ek sien baie uit na die lekker kos wat my vrou voorberei en beslis gaan help om weer krag in my bene te sit."
80 km (9 uur 31 minute)
"Ek probeer net aan die gang bly. Origens voel ek nog oraait. Ek handhaaf nou so 9 km per uur."
90 km (10 uur 56 minute 4 sekondes)
"Uiteindelik, die Comrades nou voltooi! My bene is nou vrek seer, maar my liggaam is gewillig. Ek kan voel ek raak nou moeg."
100 km (12 uur 35 minute 47 sekondes)
"Ek voel nog oraait. My bene gaan aan en ek bly in 'n roetine."
110 km (14 uur 26 minute 52 sekondes)
"My bene is nou baie seer en ek sukkel met erge pyn in my regterbeen. Dit neem my nou ongeveer 11 na 13 minute per kilo. Ek sien uit na die lekker vye en roomys wat my vrou gaan voorsit."
120 km (16 uur 40 minute 38 sekondes)
"Dis vroegaand, so net na tien, en dinge gaan nou beter. Ek gaan net aan. Ek sien uit na die nagsessie en nog roomys."
125 km (17 uur 40 minute 2 sekondes)
"Tot hiertoe het dit bo verwagting goed gegaan. Hoewel my bene al seerder raak, besef ek ek moet vasbyt en net aangaan. Ek rus na elke 5 km en dit help bietjie. Dit neem nou 12 minute vir elke kilo."
130 km (18 uur 39 minute 45 sekondes)
"Die afgelope 5 km was lank gewees. Dit raak al moeiliker en die min slaap begin my vang. Wat dit erger maak is dat my vrou gaan slaap het."
161 km (24 uur 37 minute 7 sekondes)
"Ek is vodde! Maar ek voel nogtans redelik oraait en ek's bly dis agter die rug. Dis beslis makliker om silwer te wen in die Comrades as dié 161 km in my huis. Die Addo (ook 'n 100-myler) is dalk die moeilikste van almal. Ek gaan nou beslis 'n paar dae rus."
Wat Eddie se volgende uitdaging gaan wees, is nog onseker. Hy rus nog...
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'