NASIONALE NUUS - Die kommerwekkende statistiek van die polisiediens bewys net hoe maklik jou kind kan wegraak.
Hoewel 80% van die vermiste kinders opgespoor en met hulle families verenig word, is daar steeds te veel van die kinders wat slagoffers van misdaad en mensehandel word.
Dit is jou, as ouer of oppasser, se plig om meer waaksaam te wees oor jou kinders, veral in publieke areas soos winkelsentrums.
Jy kan die volgende doen om jou kinders veilig te hou:
• Sorg dat jou kind altyd ‘n armband dra met jou kontakbesonderhede. Jy kan ook ‘n etiket met jou besonderhede op sy klere vassist. Sou jy en jou kind geskei word, kan jy dadelik gekontak word.
• Leer jou kind belangrike telefoonnommers.
• Laat jou kind ‘n fluitjie om sy of haar nek dra om te blaas wanneer hulle bang is of van jou geskei is.
• Leer jou kinders om nie enige vreemdelinge te vertrou nie. Hulle moet weet dat hulle nooit saam met enige vreemdeling erens heen mag gaan nie. As hulle teen hulle wil weggevat word, moet hulle skop en slaan en skree en op hulle fluitjie blaas.
• Sorg dat jy altyd die mees onlangse foto van jou kind dadelik beskikbaar het.
• Gesels met jou kind oor die moontlike gevare en oefen ‘n veiligheidsplan.
• Wanneer jy agterkom dat jou kind weg is, moet jy dit onmiddellik by die sekuriteitswagte en jou naaste polisiestasie rapporteer.