MOSSELBAAI NUUS - 'n Kommerwekkende kommunikasiegaping tussen die bestuur en inwoners van die Benevolent Park-versorgingsoord het genoodsaak dat die Mosselbaai-munisipaliteit as bemiddelaar onlangs die betrokke belangegroepe byeengekry het.
Die onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé het op Dinsdag, 23 April 'n beroep op die partye gedoen om gesonde verhoudinge te herstel.
Inwoners sê 'n week later is knelpunte steeds nie uitgestryk nie.
Sommige inwoners, veral dié in die selfsorgeenhede, kla dat die bestuur - op skrif - weier om met inwoners te vergader om hul griewe te bespreek. Hulle meen die versorgingsoord bestaan uit meer as net die siekeboeg en dat die behoeftes en probleme van inwoners van die selfsorgeenhede indringend aandag verg.
Geen siekesorg
Sommige griewe geld geruime tyd. Een van die grootste kopsere is dat inwoners van die selfsorgeenhede blykbaar behandeling by die siekeboeg geweier word.
"Ons kry nie eens ontsmettingsmiddele of 'n pleister nie."
Die interkomstelsel is glo vir meer as 'n jaar foutief. "Daardie foontjie teen die muur is net 'n ornament," vertel 'n inwoner wat onlangs na 'n val in die badkamer amper die ganse nag op die teëlvloer deurgebring het omdat hulp nie ontbied kon word nie.
'n Ander inwoner het na bewering onlangs drie dae siek en skynbaar sonder kos in 'n selfsorgeenheid deurgebring ondanks kuiergaste se bemiddeling en versoek aan die sentrumbestuur om die persoon te versorg en kos te bedien.
Daaglikse versorging
Inwoners van selfsorgeenhede wat met hoë bloeddruk of diabetes gediagnoseer is, sê ook dat niemand hul gesondheidbehoeftes gereeld monitor nie. "Niemand kom bedags om by die woonstelle om te kyk of ons eens nog lewe nie."
Hulle beweer dat wanneer veral diegene wat alleen woon gesondheidsprobleme ontwikkel, niemand na hulle kan omsien nie omdat beddens in die siekeboeg meestal beset is en hulle - selfs tydelik - dus nie opgeneem kan word nie.
Eenhede verkoop
Van die inwoners kla dat hulle emosioneel gedreineer is nadat 'n persoon - skynbaar 'n konsultant wat vir die beheerraad opgetree het - tydens 'n amptelike vergadering sou beweer het dat SASSA-afhanklike huurders gevaar loop om hul woonplekke te verloor.
Tydens die vergadering wat deur bestuurs- en beheerraadslede bygewoon is, is glo ook gesê dat die moontlikheid ondersoek word om die selfsorgeenhede te verkoop.
"Ons het nie ander heenkome nie, ons is weerloos, wie gaan na ons omsien as ons Benevolent Park moet verlaat?" het 'n inwoner na aan trane gevra.
Die beheerraad, daarenteen, sê dat spesifiek aan inwoners gesê is dat niemand, veral nie SASSA-afhanklike inwoners nie, se behuising in gedrang is nie.
Vrese oor die verkoop van die eenhede het opnuut posgevat toe dit bekend geword het dat die beheerraad by die Rotariërs vir advies oor die wysiging van Benevolent Park se grondwet aangeklop het.
Die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren bevestig dat die grond en verbeteringe daarop aan die Mosselbaai-munisipaliteit behoort en nie sonder meer verkoop kan word nie.
Grondwet
Kommer neem toe omdat etlike maande reeds gewerk word om Benevolent Park se grondwet te hersien.
Die beheerraad het nie klinkklaar geantwoord op vrae waarom dit nodig is om die 2015 grondwet juis te wysig nie.
Ondanks die dienste van 'n privaatkonsultant, is die Rotariërs onlangs ook vir insette genader.
Tydens 'n jaarvergadering in Oktober 2018 is aangevoer dat gevorder word met die grondwetwysigings. Vandeesweek is aangedui dat die gewysigde grondwet in Augustus vir goedkeuring voorgelê sal word.
Benevolent Park funksioneer intussen ingevolge die bestaande grondwet met gekoöpteerde persone in beheerraadsposisies. Munisipale raadslede wat afgevaardigde beheerraadslede is meen dat beheerraad hul oorsigrol na behore vervul.
Snoepie
Skynbaar word inwoners geweier om 'n snoepie op die perseel te bedryf. Die selfsorginwoners kry slegs een ete van die sentrale kombuis en moet verder self kos maak.
Die beheerraad sê daar was planne om die ou munisipale elektriese substasie op die terrein hiervoor te gebruik, maar dat die munisipaliteit die brandbeskadigde geboutjie nie wil herstel nie.
Intussen is inwoners op openbare vervoer - taxi's - of die sentrumbussie aangewese om selfs net 'n brood te kan koop. Die sentrum se bussie kos egter R15 per rit.
Dus vra inwoners soms verbygangers om namens hulle iets by 'n winkel te gaan koop, maar word dikwels besteel wanneer dié mense met hul geld verdwyn.
"Ons is ou mense, dis gevaarlik hier rond, nie almal kan meer padlangs winkel toe loop nie."
Komitee
Inwoners sê hulle het intussen 'n Besorgde Inwonerskomitee tot stand gebring om namens hulle die probleme te takel.
Die Beheerraad en bestuur van Benevolent Park versorgingsoord is gevra om op die aantygings van sommige inwoners te antwoord en perspektief te gee op die griewe wat teenoor die Mossel Bay Advertiser gelug is.
In 'n skrywe van Margaret Bhana (voorsitter), Glynis Flores (ondervoorsitter) en Maevia du Plessis (voorsitter van finanskomitee) antwoord die beheerraad dat nog altyd met beperkte fondse na die beste van hul vermoë gepoog is om in die behoeftes van beide die verswakte-eenheid en dienssentrumlede (huurders van selfsorgeenhede) te voorsien.
Hulle verduidelik dat huurders van selfsorgeenhede per definisie as selfversorgend geag word.
"Wanneer dit kom by mediese hulp, het die beheerraad nog nooit gesê dat, in noodgevalle, dienssentrumlede nie mediese hulp (by die siekeboeg) mag ontvang nie. Dit sal onmenslik wees. As die verswakte-eenheid se personeel nie kan help nie, moet die ambulans ontbied word. Die sentrumhoof het hierdie aangeleentheid met die mediese personeel in verswakte eenheid bespreek. As ‘n reël, is daar ‘n noodbed in die verswakte-afdeling indien huurders siek word en kan hulle oornag. Huurders kry voorkeur, indien hulle sodanig verswak, om in die verswakte-eenheid opgeneem te word, indien ‘n bed beskikbaar is."
Interkomstelsel
Die beheerraad sê hulle maak staat op huurders se selfone, en op bure of vriende, om huurders in tye van nood by te staan en om die kantoor in kennis te stel, soos tans gebeur.
Kwotasies is wel bekom vir die herstel van die interkomstelsel.
"Ons is nie bewus dat huurders vir dae nie kos ontvang het nie as hulle siek is. Die dienssentrumversorger monitor persone wat siek is en rapporteer aan die sentrumhoof of mediese suster in beheer en die kombuishoof. Hierdie persone behoort te weet indien iemand nie kom eet nie. Indien huurders skielik siek word, behoort die dienssentrumversorger dit by die kantoor aan te meld.
Betaalde amptenare
"Die beheerraad is nie 24 uur betrokke by Benevolent Park nie, ons het betaalde amptenare wat die dag-tot-dag werksaamhede verrig. Selfs vir hierdie personeel is dit onmoontlik om te verseker dat huurders te alle tye gesond sal opstaan."
Gesondheidsmonitering
"Die dienssentrumversorger neem daagliks bloeddrukmetings en bloedsuikerlesings van huurders by die eetsaal. Sy gaan ook na die woonstelle om hierdie diens te verrig.
"Dit is in die pyplyn om meer personeel vir hierdie doel aan te stel mits die fondse dit toelaat. Tans word die sentrum met beperkte fondse bedryf."
Kommunikasie
"Ons het die ad hoc komitee te woord gestaan en elke punt van hulle griewe bespreek. Later het hulle gevra vir ? opvolgvergadering omdat daar meer griewe opgeduik het."
Die beheerraad sê die ad hoc komitee is gevra om die verdere griewe op skrif te stel, maar dat sedertdien geen verdere kommunikasie ontvang is nie.
Grondwet
"Die beheerraad is sedert November 2018 besig met die wysiginge aan die grondwet.
Die grondwet word nie herskryf nie, wel gewysig. Verskeie kundige persone is gevra om met die wysiginge behulpsaam te wees.
Daar is tans ? regspersoon daarmee besig. Daar moet drie maande kennis gegee word om die wysiginge goed te keur. Na verwagting sal die datum vir goedkeuring 1 Augustus wees."
Die Rotariërs is volgens die beheerraad se kommentaar betrek omdat dié organisasie oor bevoegde kundigheid beskik om te help en is nou besig met insette. "Niemand is vergoed om die grondwet te hersien nie."
Die beheerraad sê daar tydens algemene jaarvergadering in Oktober 2018 besluit om die grondwet se hersiening af te handel alvorens 'n verkiesing sal plaasvind. Die huidige 2015-grondwet bepaal dat persone gekoöpteer kan word in vakante beheerraadsposte.
Verkoop van eenhede
Die beheerraad sê aantygings oor die verkoop van eenhede en die trekpas vir SASSA-afhanklike huurders is 'n wanopvatting en dat die konsultant, wat op versoek van die beheerraad inwoners toegespreek het, nooit dié uitlatings gemaak het nie. Die huurders het na bewering die betrokkenheid van die konsultant benavraag.
Die beheerraad het op versoek van die huurders die konsultant gevra om die huurders toe te spreek. Hierdie konsultant is ? geakkrediteerde diensverskaffer van die departement van maatskaplike dienste.
Die gewraakte stelling is - volgens die beheerraad - deur die voorsitter van die huurders se komitee gemaak.
"Die sentrumhoof - die amptelike skakel tussen die beheerraad en huurders - het tydens dieselfde vergadering die beweringe reggestel."
Die beheerraad sê die verkoop van eenhede is ? konsep wat deur die Rotariërs gebruik word om fondse te styf. Die beheerraad beweer hulle het uitdruklik gesê Benevolent Park sal nooit eenhede kan verhandel nie weens ? kontrak met die Mosselbaai-munisipaliteit en die destydse departement van behuising wat steeds van krag is.
Inwoners van die selfsorgeenhede by Benevolent Park kla dat niemand na hul griewe omsien nie.
Inwoners is van openbare vervoer afhanklik.
Sommige inwoners, veral dié in die selfsorgeenhede, kla dat die bestuur - op skrif - weier om met inwoners te vergader om hul griewe te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'