MOSSELBAAI NUUS - By die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal het vyf mammas geboorte geskenk aan Kersbabas. Vier dogtertjies en een seuntjie is gebore.
Mossel Bay Advertiser het by navraag verneem dat die eerste babaseuntjie reeds vroeg op Kersdag sy verskyning begin maak het.
Mamma Nadine Joseph (20) het om middernag geboorte geskenk aan ‘n seuntjie met ‘n gewig van 2480g en lengte van 47cm. Sy het normaal geboorte geskenk en haar baba se naam is Landon Matthew Joseph.
Net ‘n halfuur later het Asanda Nonyondla (27) se dogtertjie haar opwagting gemaak. Sy weeg 2900g en is 47cm lank. Sy het vir 'n keisersnit gegaan. Haar baba se naam gaan Yantle Uminam Jiya wees.
Ethel Thungela (21) se dogtertjie van 3460g en 49cm is om 09:12 gebore. Sy het vir 'n keisersnit gegaan en het nog nie op ‘n naam vir haar kleinding besluit nie.
Drie-en-twintig minute later om 09:35 het Anuska Moolman (25) ook ‘n dogtertjie ryker geword met ‘n gewig van 3790g en 57cm lank. Moolman het ook nog nie op ‘n naam vir haar besluit nie.
Die laaste baba vir die dag was die van Santania Isaacs (34) om 13:15 - 'n dogtertjie. Volgens suster Megan Raats het Isaacs normaal geboorte gegee by die huis en is hospitaal toe as "gebore voor aankoms". Dié dogtertjie, ook nog sonder ‘n naam, is 46cm lank met ‘n gewig van 2600g.
Raats het ook aan die Advertiser gesê dat die staf van Mosselbaai Provinsiale Hospitaal se kraamsaal baie tevrede is met die geboorte van die vyf gesonde Kersbabas.
Volgens Gerdia Langenhoven van die Life Bay View Privaat Hospitaal op die dorp, het geen babas hul opwagting hiér gemaak op Kersdag nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’