MOSSELBAAI NUUS - Tydens die maandvergadering van VLV Voëlvlei, gehou op Vleesbaai, is 'n groep van 10 vroue vereer vir hul gesamentlike lidmaatskap van 365 jaar aan die Vroue Landbouvereniging.
Arieta Swart het 'n sertifikaat en diensjaarknopie ontvang vir 70 jaar lidmaatskap.
Arieta het in Januarie 1950 as twintigjarige vrou aangesluit by die VLV in Leeu Gamka. Sy vertel dat sy as nuwe onderwyseres bang was om aan te sluit en nou 70 jaar later, is sy bang dat sy 'n vergadering gaan misloop. Arieta was lid by verskeie takke en het ook op die bestuur van sommige takke gedien.
'n Baie geslaagde 86ste VLV SWD konferensie is op 4 Maart in Oudtshoorn gehou. Andrieshia Radyn was een van die afgevaardigdes van VLV Voëlvlei en het tydens die maandvergadering terugvoering daaroor gegee.
Die lede van Voëlvlei is baie trots op die nege trofeë wat gewen is.
Annemarie van der Merwe het eerste plek behaal vir breiwerk en haar gebreide artikel is ook aangewys as die mees uitstaande in die leefstylafdeling. Johlene Muller en Elmarie Engelbrecht het ook eerste plekke behaal vir borduur- en hekelwerk,
Elmarie Engelbrecht se olieverfskildery van 'n plaashuis het eerste plek behaal en is aangewys as die mees uitstaande artikel op die konferensie. Elmarie se pastelwerk het ook 'n eerste plek behaal. Ada Gericke se Ballade is aangewys as beste woordkuns, Johlene Muller se vyekonfyt en Marie van Rensburg se vrugtelekkers was die wenners in hul afdelings.
Hierdie vroue, asook ander inskrywings het daartoe bygedra dat VLV Voëlvlei weer eens die trofee vir die tak met die meeste punte verower het.
Annemarie van der Merwe, Elmarie Engelbrecht, Marie van Rensburg, Ada Gericke en Johlene Muller het hulle VLV-tak trots gemaak met hulle onlangse prestasies by die VLV-kongres.
Hierdie vroue spog met lang lidmaatskap aan die VLV (van links) Elize Pienaar (55 jaar), Rena Gibbons (15 jaar), Cathy Klaassen (15 jaar), Christine Beytell (15 jaar), Arieta Swart (70 jaar), Jemien Smalberger (20 jaar), Yvonne Meyer (55 jaar) en Johanna Marais (60 jaar). Afwesig Rika de Villiers (35 jaar) en Mariaan Deerans (25 jaar).
Hierdie olieverfskildery van Elmarie Engelbrecht was 'n treffer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'