HARTENBOS NUUS - Die VLV Hartenbos bied hierdie week die geleentheid aan om meer oor seediere, en spesifiek dié wat op strande uitspoel, te leer.
"Die marine-ekosisteem is 'n ontspannings- en sportarena, dit is 'n bron van voedsel en dan beskik dit ook oor die pragtige en unieke diere- en planteryk van die oseane.
"Dit is tans geweldig onder druk en word deur 'n wye reeks faktore benadeel. So ervaar ons van tyd tot tyd dat seediere, soos robbe, skilpaaie, dolfyne en meer, lewend op strande lê. Wat om in so 'n situasie te doen bly 'n vraag wat by die meeste mense opkom en onbeantwoord bly," sê die VLV.
By die VLV se volgende geleentheid op Dinsdag 31 Maart kom die Stranded Marine Animal Rescue Team, meer algemeen bekend as Smart, met die lede en besoekers oor gestrande seediere gesels.
Om waarde en realiteit tot hulle praatjie te voeg, kom Smart se gelukbringer, Sammy, ook saam kuier. Om uit te vind wie (en wat) Sammy is, sal jy maar die samekoms moet bywoon! Moenie hierdie geleentheid laat verbygaan nie.
Daar is na die tyd heerlike eetgoedjies, tee en koffie. Die byeenkoms begin om 09:00 vir 09:30 by die Lede in Christus Kerk, op die hoek van Katjiepiering- en Jakarandastraat, Hartenbos Heuwels.
Daar sal ook geleentheid wees om by die marktafel 'n draai te maak - daar sal onder meer gedroogde vrugte teen baie billike pryse beskikbaar wees. Neem kontant saam om die VLV hiermee te ondersteun.
Indien jy besluit om die geleentheid by te woon, neem ook sommer 'n vriendin of twee saam. Eggenote is ook welkom.
Skakel die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2838 vir verdere navrae of indien jy belangstel om by die VLV Hartenbos aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’