HARTENBOS NUUS - 'n Vakansieganger van Kaapstad, wat jaarliks op Hartenbos vakansie hou, het benoude oomblikke beleef toe haar pragtige verloofring se diamant verlede Vrydag (die 13de nogal) verlore geraak het.
Karien Loots en haar gesin kamp jaarliks by Laerskool Hartenbos se kampterrein. Hulle het pas tent opgeslaan toe sy na die gewerfskaf in die kleedkamer haar hande was en sien haar diamant het uitgeval.
Haar ma Elsa Pretorius sê almal het dadelik na die diamant begin soek en het selfs 'n beloning vir die kinders aangebied indien een van hulle die diamant dalk sou kry.
"Karien moes hartseer gaan slaap, want niemand kon die diamant kry nie," sê Elsa.
Karien het egter die volgende oggend weer begin soek. Dié keer egter met haar bril byderhand en op haar knieë.
Sy was oorstelp van vreugde toe sy die blink diamant tussen die gras langs die tent sien.
Tot vandag toe glo Karien sy is steeds die gelukkigste vrou op Hartenbos.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’