TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Veroordeelde verkragter, wat agt jaar nadat hy ‘n vierjarige meisie van Mosselbaai brutaal verkrag het, deur 'n enkele haar met die misdryf verbind is, is vandag in die Oudtshoorn-streekhof, 15-jaar na die verkragting, tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Geregtigheid het uiteindelik vir die slagoffer, wat vandag al 19 jaar oud is, geseëvier.
DNS-resultate het jare lank gesloer, maar het inderdaad die beskuldigde, Makhosandile Nomga (42), positief verbind met die verkragting op 14 Mei, 2008.
Nomga is in 2016 deur die ondersoekbeampte in die saak, ao Tata Marks, in die George-gevangenis in hegtenis geneem waar hy reeds besig was om ‘n 30-jaar lange vonnis uit te dien vir ‘n ander verkragting.
Die voorval het ‘n geweldige impak op Marks gehad en hy was vandag na afloop van die vonnis oorstelp van vreugde.
Marks het tydens ‘n onderhoud met die Advertiser in 2016 gesê hy onthou die fyner besonderhede van daardie oggend so goed, juis omdat 14 Mei, 2008 'n ingrypende invloed op sy lewe gehad het.
Voorval
Op die betrokke oggend het die slagoffer se ma met haar bebloede kind by Marks se kantoor by die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) ingestap nadat die kind op pad skool toe deur Nomga verkrag is.
Die dogtertjie het volgens haar ma die kort pad vanaf hulle woning na die kleuterskool geken en het op die betrokke oggend skool toe gestap toe Nomga haar aan haar hand gevat en vir haar gesê het dat hy vir haar 'n pakkie skyfies by 'n kafee om die draai sal koop. Ná hy die pakkie skyfies vir haar gekoop het, het met haar in die rigting van die bosse gestap waar hy haar brutaal verkrag en aangerand het. Met 'n vuishou in die gesig, is haar kakebeen ook gebreek.
Marks het destyds aan die Advertiser gesê dit was die ergste saak wat hy in al sy jare by dié eenheid moes hanteer.
“Ek het baie oor hierdie slagoffer gehuil.
"Daar was tye wat ek 04:00 soggens wakkerskrik en haar gesig voor my sien. Haar oë en haar trane kon ek nie vergeet nie.”
Hy het gesê hy was die meeste deur hierdie saak geraak. “Ek het baie gebid en vir die Here gevra om hierdie man vir my te gee. Ek het vir die Here gebid dat dit nie saak maak wanneer dit gebeur nie, maar dat ek dié man soek.”
Nomga sal sy verdere gevangenisstraf in die George-gevangenis uitdien.
Die staatsaanklaer wat die saak suksesvol ondersoek het is Corné Pretorius.
Corné Pretorius
Vorige artikel: Haar verbind verdagte 8 jaar na verkragting
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’