MOSSELBAAI NUUS - Die 2019/2020 seisoen was minder bedrywig vir die personeel van die Mosselbaai Brand-, Redding- en Rampbestuursdienste vergeleke die vorige jaar.
Brande is by twee formele huise en ses informele strukture geblus.
Brandbestryders moes egter bontstaan om te help om 40 veldbrande te blus vergeleke die 22 verlede jaar.
Tog sê brandweerhoof Joseph Johnston die afdeling is baie dankbaar dat ‘n herhaling van die brande wat Danabaai en die landbou-areas van Brandwag-, Ruiterbos- en Herbertsdale-omgewing in Desember 2016/Januarie 2017 geteister het, nie weer voorgekom het nie. Mosselbaai se brandbestryders het ook in vier gevalle brandende voertuie geblus. In een van hierdie voorvalle het die brand na die naburige veld versprei en is brandbestryders van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ook ingespan in die bestryding daarvan.
Brandbestryders het bystand verleen by 26 motorongelukke en het ook 26 slange vanuit woonerwe hervestig, waaronder een wat die voormalige burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira tuis aan die voet gepik het. Dit is egter aansienlik minder as die 40 slange wat in die vergelykende tyd verlede jaar gered is.
Lewensredders
Chief Johnston het ook as hoof van Redding- en Rampbestuur die oorhoofse verantwoordelikheid vir die onderskeie lewensreddersdienste gehad. Mosselbaai se Blouvlagstrande se uiters hoë standaarde is deurgaans gehandhaaf en lewensredders het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.
Slegs een verdrinking is aangemeld by Oyster Bay in die Pinnacle Point-landgoed waar lewensredders nie diens gedoen het nie. Die 61-jarige vrou het omgekom toe sy deur sterk sleurstrome meegesleur is.
Inwoners van oraloor en veral Glentana, Klein Brak, Cloete se gat en Koffiehuis het hul dank uitgespreek teenoor die munisipaliteit vir die professionele en voortreflike dienslewering van die onderskeie vrywilliger lewensredders.
Na raming het 985 005 strandgangers tussen 27 Desember en 2 Januarie die gewildste strande besoek. Volgens inligting is 746 persone wat deur bloublasies gesteek is te hulp te snel, en in 183 gevalle is behandeling vir snye en skraapwonde toegedien. Die sterk oostewind word onder meer voorgehou as rede vir die voorkoms van bloublasies op die strande.
Beenbreuke en verstuitings het veral voorgekom by die Poort, Nooitgedacht en Cloete se Gat.
Gemeenskapspolisieforum
Die Mosselbaai-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in samewerking met verskeie buurtwagte het weer eens uitstekende werk verrig om misdaad hok te slaan en opportunistiese misdadigheid te voorkom. Perdepatrollies wat in 2018/2019 met baie groot sukses geloods is, is vanjaar herhaal en verskeie kere sedert 10 Januarie saam met die polisie se viertrekmotorfietse ingespan om die strande op moeilik-bereikbare areas te beveilig.
Die misdaad in knelpunte soos Diasstrand het aansienlik afgeneem hoewel enkele voorvalle wel aangemeld is. Die GPF het weer eens personeel op die gewilde St Blaize-roete ontplooi om stappers te beveilig. Oudergewoonte is ‘n kiosk ook by die Punt bedryf waar om inligting en hulp aangeklop kon word.
Toeriste-monitors
Die munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling het ook ‘n groep toeriste-monitors ontplooi wat veiligheidswenke uitgedeel en toeriste met allerlei navrae bygestaan het.
* Inhoud verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'