Video
RUITERBOS NUUS EN VIDEO - Van tannie Johanna Scheepers se dubbelmotorhuis tot hul eie splinternuwe kliniek - dis waarheen die Ruiterbos-gemeenskap se gesondheidsorgdienste uiteindelik kan skuif.
Ná jare se toegang tot slegs 'n mobiele kliniek, wat soms in slegte weersomstandighede van Scheepers se motorhuis gebruik gemaak het, het hierdie gemeenskap nou toegang tot die nuwe Ruiterbos-kliniek.
Die fasiliteit is amptelik op Maandag 28 September geopen en bevat twee konsultasiekamers, 'n observasiekamer, 'n wagarea, 'n ontvangs- en medisynekamer, 'n personeelkamer, toilette vir pasiënte en personeel, asook 'n spoelfasiliteit.
Scheepers self woon al sedert 2003 in Ruiterbos, en het ook onlangs vir baba Jasmine Filies aangeneem - soveel te meer rede vir dankbaarheid vir die toegang tot hierdie dienste.
Sy lag uitbundig wanneer sy vertel van die susters en die mobiele kliniek wat van haar motorhuis gebruik gemaak het. Dié het sy en haar man in 2009 saam met hul huis laat bou. "Oukei, 'n mens het nou nie rygoed nie, maar daar is altyd 'n rede hoekom die Here 'n mens daai visie gee om iets te doen.
"Ek kan onthou, dit was Februarie 2023, toe het die wind die dag so gewaai; en ek was ook siek daai dag. Toe het die suster vir my kom vra of hulle nie die garage kan gebruik nie, omdat die wind nou so waai.
"Toe het ek hulle daai dag ingenooi, en hulle toe nie weer uitgekry tot vandag [Maandag] wat dié kliniek nou staan nie!" lag sy.
"Maar dit was vir my 'n voorreg. Ek het altyd gedink aan die kindertjies en onse oumense dat hulle nie so in die wind en die reën en die warmte moet staan nie."
VIDEO: Só het die Ruiterbos-kliniek sedert 2024 begin vorm aanneem
Video: Verskaf
Sy reken die nuwe kliniek gaan die wêreld se verskil in die mense van Ruiterbos se lewens maak. "Kyk, dit was nou altyd vir my 'n kopseer as ek nou hoor ek moet dokter toe gaan, Brandwag toe." Brandwag is sowat 20 km van Ruiterbos af, en Scheepers sê die finansies is maar nie altyd daar nie. "So ek het ook maar gebid en geroep en gesê: 'Nee, Here, nou moet dit darem na 'n kant toe kom, want ek is nie meer lus vir die Brandwag-storie nie. Dis darem net te ver!'"
En nou, sê sy, het hulle nie meer 'n rede om te sê hulle kan nie dokter toe gaan nie, en ook geen rede om hulle afsprake te mis nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’