MOSSELBAAI NUUS - Met die afsterwe van Robert Edwards, het dié plaaslike Mosselbaaise legende 'n bly-wende indruk gelaat.
"Hy het 'n ongelooflike stempel op Mossel-baai agtergelaat," sê Adrian Edwards, een van wyle Robert se drie seuns, oor sy pa.
Die 84-jarige Robert, ook net bekend as Rob, is reeds op 11 Februarie oorlede. Sy familie het nou eers vir die eerste keer kans gesien om met Mossel Bay Advertiser oor hom te praat.
Oorspronklik van Springs in Gauteng, het Rob in 1983 na Mosselbaai verhuis om met sy broer, John en Koos van Rensburg, by Outeniqua Visserye te werk.
Outeniqua Visserye het later Marriëtte Visserye geword voor dit deel van die Sea Harvest-groep geword het.
Voor Rob by sy broer in die visbedryf aangesluit het, het sy loopbaan as elektriese handelaar op die myne begin. Uiteindelik het hy na verkope uitgeskuif en 'n nasionale verkoopsman vir die Federale Volksbeleggings geword.
Rob (regs) en sy broer, John.
Rob en John was baie aktief in die posduif-gemeenskap op Mosselbaai. Gereeld het hul name in die Mossel Bay Advertiser verskyn onder die naam J&R Lofts.
Ná John se uittrede uit die duiwesport, het Rob en een van sy kleinseuns, Robert, begin saamspan om die sport van die duiwe vlieg verder te voer.
Gou het die naam R&R Lofts 'n huishoudelike naam geword.
"Elkeen op die dorp was mal oor sy (Rob) se omgee-houding en hy het goed met almal oor die weg gekom," sê Adrian.
Rob was met Elaine Edwards getroud. Die egpaar het drie seuns, Robert Mark, Adrian en Colin en nege kleinkinders. Elaine het haar 80ste verjaarsdag in Desember 2024 gevier.
As broers was Rob en John baie na aan mekaar. "Hulle is sedert geboorte onafskeidbaar," het Adrian aan die Advertiser gesê.
"Hy was 'n ware inspirasie vir my broers, myself en ons uitgebreide families. Sy heengaan sal 'n ongelooflike leemte laat," sê Adrian.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’