MOSSELBAAI NUUS - Kobus Groenewald van Stilbaai is een van Suid-Afrika se voorste bewaarders en restoureerders van veteraan trekkers – 'n deernis wat hy van kindsbeen koester.
Aan die vooraand van vanjaar se Veteraantrekker-en-enjinklubskou, wat op 4 en 5 Augustus in Hartenbos gehou word, vertel Kobus meer van dié lewenslange passie.
Gebore op die plaas Muiskraal "net hier agter die berg" vertel Kobus hoe sy pa hom as pap babatjie saamgevat het lande toe. "Vandat ek ses weke oud was het ek saam trekker gery. Lekker in 'n kombersie toegedraai en sitgemaak op die vloerbord het ek my vroegste ervarings van daai enjins gehad.
"Pa het 'n kissie saamgevat op die trekker en wanneer hy op die lande werk sou hy die kis onder die sleepwa in die koelte neersit. Daar het ek my kos gekry, en vandaar die wêreld betrag. Ek het nog 'n fototjie wat wys hoe ek in die kissie opstaan en oor die rand loer. In 1948 trek ons na Edenburg in die Vrystaat. Daar het ek saam met my pa op sy Trojan padskraper grondpaaie (soos die pad na ons plaasskool) opgeknap. Ek was nog op laerskool toe ek hom begin help het om lande gelyk te maak – en as dit koud was, het ek geweet presies waar om te sit, daar waar die trekker sy warm lug uitblaas."
Kobus was nog 'n tjokker toe hy self sy eerste modeltrekkertjie gebou het. "My pa-hulle het 'n W6 gehad en ek het hom gehelp as daar reggemaak moes word. Só het sommer van kleins leer sweis.
"Dié kennis het my in staat gestel om my eie trekker en selfs 'n klein sleepwaentjie te bou, met wielietjies wat ek van ander speelgoed geleen het."
Verhuis na Stilbaai
Die Groenewald gesin het in 1964 na Stilbaai verhuis. Sy pa is in 1968 oorlede, maar waar daar ookal gewoon en gewerskaf is, het die bekoring van plaasmasjienerie gedy. Nuus van Kobus se vaardighede het vinnig versprei en mense sou hom kontak om te sê as hy hul trekker wil kom haal en
regmaak, kan hy dit sommer verniet kry. "Ek het nie noodwendig daai dae die geld of tyd gehad om die goed te gaan haal nie, maar het my maar altyd besig gehou met die regmakery."
Dié lang jare van toewyding het duidelik bygedra om hiérdie plat-op-die-aarde man in 'n meester-restoureerder te omskep. Kobus sê hy het geen formele opleiding ontvang vir sy restoureerwerk nie – dit was maar 'n kwessie van probeer en leer tot jy dit regkry. En as daar één ding is waaroor die gemoedelike 75 jarige doodernstig is, is dit dat goed ordentlik gedoen moet word. "Ek glo 'n ding moet presies wees. Moet nooit 'n metrieke boud gebruik as die enjin se mate in duime is nie. So benader ek al my werk: doen dit reg of los dit."
Wat min mense buite die trekkerbroederskap besef is dat daar 'n museum gevestig is op die pad na Stilbaai, langs Putstop, waar liefhebbers van die restoureerkuns na hartelus kan omgaan met modelle wat deur Kobus versamel en versorg is.
Trekkermuseum
Maar hoe het die gedagte vir 'n trekkermuseum posgevat? "Die idee broei al jare by my, maar dan word daar altyd opgesien teen die koste. Toe sê iemand eendag vir my, 'begin net en kry dit klaar'. Net so was dit met die trekkermuseum: die spasie is miskien knap, ons moet nog beskrywings aanbring en areas afsper, maar die ding is begin."
Kobus beken dat die museum glad nie geadverteer word nie, en diegene wat wel inkyk het meestal mondelings deur ander mense uitgevind van sy goedbewaarde geheim. Maar as mens so sterk voel oor die bevordering van hierdie nalatenskap, dan maak 'n boer 'n plan. En volgende maand se Veteraantrekker-en-enjinklubskou is die perfekte geleentheid om oud en jonk daarby te betrek.
Kobus sal opruk na Hartenbos, een van die mooi dorpe in die ikoniese Mosselbaai-distrik, met 'n vloot van vyf of ses trekkers, ondermeer die 1952 Lanz Bulldog wat in 2015 as bes-gerestoureerde trekker aangewys is. Nasionale wenners van 2003 en 2011 sal ook te sien wees.
"Ek gaan nie om te spog nie, maar hierdie trekkers kom 'n lang pad saam – soos byvoorbeel my pa se Field Marshal, wat in 1946 per skip in die Kaap besorg is voordat dit op die trein gesit is Riversdal toe." As jy nuuskierig is oor die staaltjies en geskiedenis van trekkers van toeka tot nou, gaan kuier by Hart & Bosch Village op Saterdag, 5 Augustus. Kosstalletjies en vermaak vir die jongspan is deel van die verrigtinge, wat afgesluit word met 'n dans by Salt & Copper vanaf 18:00. Epos kkuyler@pnp.co.za of bel 082 334 5665 vir verdere inligting.
Een van Kobus se modeltrekkertjies met sy sleepwa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’