Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Jeugdag is vandag op 'n vrolike wyse in Sonskynvallei in die Mosselbaai-distrik gevier met 'n talentkompetisie wat die toeskouers in die volgepakte gemeenskapsaal op hul voete gehad het.
Die 17 verskillende groepe deelnemers aan die talentkompetisie is luidkeels deur die gemeenskap ondersteun wat soms ook saam gedans en gesing het.
Die verskeidenheid aanbiedinge het gewissel van solo sangers, duo dansers, groter dansgroepe, teaterstukke en rap kunstenaars.
Joyce Kimari, Distriksbestuurder van die Tuinroete Wes-Kaap e-Sentrums, was vol lof vir die talent en het die kompetisie as 'mind blowing' beskryf.
"Ek is verwonderd dat 'n klein gemeenskap soos Sonskynvallei die jeug bymekaar gebring het en die hele gemeenskap betrek het om vandag in groot getalle te ondersteun."
Divine Pick, een van die beoordelaars, verduidelik waarom Hervin Botha die eerste prys losgeslaan het.
"Hervin het die jeug betrek en die item het nie oor hom gegaan nie, maar om mense te kry om die sang saam met hom te geniet. Dit was wonderlik hoe die ouer mense saam met hom gedans het."
Hervin se Sopkombuis is 'n bekende baken van hoop in Sonskynvallei. Die tweede prys het gegaan aan die AGS Dansgroep en Meshay Olivier was derde met 'n kletsrym oor haar lewe.
VIDEO - Craigon-Lee Keffers en Daniele Jantjies, ACVV in Mosselbaai oor die lekker talentkompetisie:
VIDEO - Hervin Botha het die eerste prys in die Jeugdag Sonskynvallei talentkompetisie gewen:
VIDEO - Die AGS Dansers het die tweede prys by Sonskynvallei se Jeugdag talentkompetisie verower:
VIDEO - Meshay Olivier het die derde prys by die Sonskynvallei talentkompetisie gewen met haar kletsrym:
Die groepie deelnemers moedig luidkeels hul vriende aan, terwyl hulle aan die talentkompetisie deelneem.
Die beoordelaars geniet die vertonings wat deur 17 verskillende groepe aangebied is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’