MOSSELBAAI NUUS - Vissermanne in die Mosselbaai-omgewing is baie ongelukkig oor die huidige stand van ons seelewe en voel dat die owerhede daadwerklik iets aan die situasie moet doen voor Mosselbaai se seebronne uitgeput raak.
Volgens Derick Wiid wat al meer as 30 jaar hier hengel is die natuurlike kos vir die vis besig om astronomies minder te word.
"Veral in die laaste paar jaar het die rotse aansienlik leeg geloop," sê Wiid.
Volgens wetgewing hoef kinders onder 12 jaar nie 'n visvang- of aaspermit te hê nie maar is die verkoop van daardie vangste of aas onwettig.
Klagtes
Die Mossel Bay Advertiser het by verskeie van ons plaaslike hengelaars klagtes gehoor oor hoe die seelewe geplunder word sonder enige optrede of vervolging wat plaasvind.
Van die klagtes is:
"In die area van Danabaai tot Glentana word die rotse gestroop sonder dat lisensies, kwotas en vis-groottes gereeld en daagliks gekontroleer word."
"Daar is manne wat met laagwater tussen Hartenbos en Glentana op fietse arriveer om die rotse van oesters, mossels en ander skulpvis met koevoete te stroop en dit dan in sakke wegdra."
"Kommersiële kwotas word nie gekontroleer waar spesie-spesifieke kwotas toegestaan word nie."
"Kinders van jonger as 12 jaar word as addisionele aasdraers gebruik en vir viskwotas waar die ouer net 'n permit het vir 'n bepaalde hoeveelheid aas en/of vis."
"Jong kinders so oud soos vyf- en sesjaar pomp modderkrewels en pienkkrewels in veral die Klein-Brakrivier en verkoop dit dan aan vissermanne. As die voorraad nie verkoop kan word en dan doodgaan, word dit eenvoudig net weggegooi en die volgende dag word daar maar weer varses uitgehaal."
"Sommige hengelaars hou glad nie by die seisoenale beperkings op spesies nie en sal byvoorbeeld ‘n galjoen buite-seisoen huis toe neem vir ‘n braai terwyl die seisoen toe is."
"Ondermaat vis asook vis en aas met eiers word links en regs verwyder."
Ander klagtes is vakansiegangers en plaaslike inwoners wat mossels, perlemoen, seekat, alikreukel en rooi-aas van die rotse afstroop sonder die nodige permitte.
Koste van permitte
- Vir Jan Alleman wat 'n vissie wil vang as hy hier vakansie hou, kos 'n visvangpermit nou R52 en is dit vir 'n maand geldig. Die jaarlikse permit kos R76.
- Indien jy jou eie aas wil uithaal, is dit R57 per maand en R94 per jaar vir modderkrappe; Dieselfde bedrae geld ook vir onderskeidelik skulpvisse en slakke.
- Vir gooinette asook visskiet is dit beide ook R57 per maand en R94 per jaar.
- Skubaduikers moet R49 per maand of R92 per jaar opdok.
- 'n Kreeflisensie beloop R94 per jaar.
Elke persoon, behalwe kinders onder 12 jaar, wat hierdie aksies uitvoer, moet in besit wees van 'n permit vir die spesifieke items.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'