MOSSELBAAI NUUS - Beeldmateriaal wys hoe 'n verdagte doodluiters na die Mosselbaai Mall se uitgang stap, pas nadat hy die Vodashop-winkel op Maandag, 30 Julie beroof het.
Volgens die Mosselbaai-polisiestasie se woordvoerder, ao Pieter Koekemoer het die verdagte kort voor 08:30 by die winkel ingestap en die werknemers met 'n mes gedreig. Die verdagte het die slagoffers beveel om na die winkel se stoorkamer te gaan en het hulle na bewering met sy hand aangerand.
Die werknemers is aangesê om die kluis oop te sluit waarna die verdagte 'n onbekende bedrag kontant en selfone in een van die skootrekenaarsakke wat in die winkel was gesit en weggestap het.
Die verdagte het 'n blou baadjie, 'n ligte broek en wit tekkies gedra ten tye van die voorval. Die sentrum se bestuurder, Jaco Karg sê sekuriteitswagte patrolleer die sentrum daagliks en dat dit die eerste voorval van so 'n aard by die sentrum is. Karg is al 11 jaar by die bestuur van die sentrum betrokke.
"Ons kan kliënte verseker dat ons sekuriteit in plek is en dat ons perseel veilig is om te besoek."
Enigeen met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, kst Malusi Matiya te kontak (044 606 2805).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'