MOSSELBAAI NUUS - Drie graad 10-leerders van Hoërskool Sao Bras is op hete kole met dié dat hulle volgende week hulle debuut op televisie maak.
Hierdie drie slimkoppe wat boonop nie op die mond geval is nie, het hulle skool verteenwoordig op DStv-kanaal 147, via se nuwe reeks, Die Superskool, waarvan die eerste episode Maandag, 4 September uitgesaai word.
Verlede maand het die Mossel Bay Advertiser berig oor Davene Anderson, Rhufieka Heunis en Anniel Groenewald se avonture in Johannesburg tydens die verfilming van die program gedurende die skoolvakansie (Driemanskap hou Sao Bras en Mosselbaai se naam hoog, 28 Julie).
Die driemanskap is gekies om deel te neem op grond van 'n video wat hulle aan die vervaardigers gestuur het.
Die opvoeder wat hulle vergesel het, Debbie Jeffrey het vandeesweek gesê dat die drie juis gekies is op grond van hulle verskeie sterk punte. Davene het 'n kop vir wiskunde.
Rhufieka is sterk in haar tale en Anniel het 'n besonderse konsentrasievermoë. Al drie blink uit wat hulle algemene kennis betref.
Tydens die program, aangebied deur die Afrikaanse sanger en kletsrymer, Snotkop, moet die spanne leerders van verskeie skole mekaar probeer troef tydens speletjies.
Hulle kon egter hul opvoeders raadpleeg, indien hulle vasdraai met antwoorde.
Die Superskool word om 17:00 op Maandag uitgesaai.
ARTIKEL & FOTO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'