MOSSELBAAI NUUS - Drie van die sewe swemmers wat vir die Ysterman-kompetisie oefen, is vanoggend Sondag, 10 September, deur 'n jong rob by Santos Strand gebyt.
Colleen Olivier het aan die Mossel Bay Advertiser vertel sy het in die vlak water geswem toe sy 'n stamp aan haar been gevoel het.
Sy het aanvanklik aan 'n haai gedink en rondgekyk, maar toe besef dit is ‘n jong rob.
"Ek het toe uit die water gekom en later sien ek Amanda Sheppard en De Villiers Pienaar uitkom. Ek het aanvanklik gedink hulle het klaar geswem, maar het my ingelig hulle is ook gebyt," het Colleen gesê.
Amanda Sheppard het gesê sy het 'n jong meisie gehelp om te swem en was later saam met Pienaar op pad om terug te swem na die seiljagklub. Hulle het 'n bietjie dieper in die see geswem en was 'n entjie van Colleen af toe hulle 'n rob in hul rigting sien swem.
‘’Oomblikke later het ek 'n byt aan my agterstewe gevoel. Ek het hard geskreeu, en Divvie het my gehoor met sy kop onderwater.’’ “Toe byt hy my aan die kuit.’’ Oomblikke later het die rob ook De Villiers aan die agterstewe en kuit gebyt.
Colleen is na die ongevalle-afdeling, waar sy 'n tetanus inspuiting en antibiotika gekry het, terwyl Amanda en De Villiers na die kliniek by die Super Spar gegaan het, waar hulle ook die nodige behandeling ontvang het. Gelukkig was die bytmerke nie diep nie.
Dit is egter nie ongewoon vir jong robbe, soos ander diere, om hul omgewing te verken en met onbekende voorwerpe of wesens, insluitend mense, interaksie te hê.
In sommige gevalle kan hierdie nuuskierigheid of speelsheid daartoe lei dat 'n rob 'n swemmer of duiker knibbel of byt. Hierdie voorvalle is egter gewoonlik nie aggressief van aard nie en is eerder die gevolg van die rob se natuurlike gedrag.
Die bytmerk van De Villiers Piennaar se kuit. Hy is ook op die agterstewe gebyt.
Amanda Sheppard is aan die agterstewe en hier op die kuit gebyt.
Een van die bytmerke aan Colleen Olivier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’