MOSSELBAAI NUUS - Die 14-jarige Raynier Claassen, Mosselbaai se talentvolle, jong skaakspeler, is weer veilig tuis ná hy in Florianópolis, Brasilië, aan die Wêreldbyeenkoms vir jeug spelers deelgeneem het.
Florianópolis is die hoofstad van die deelstaat Santa Catarina en is sowat 1 136km suidwes van Rio de Janeiro geleë.
Dié byeenkoms het van 29 Oktober tot 11 November oor elf verskillende rondes plaasgevind. Claassen was een van tien Suid-Afrikaanse deelnemers, maar is die enigste speler van die Wes-Kaap; 'n trotse Eden-verteenwoordiger.
Uit die 118 deelnemers van 62 verskillende lande in Brasilië, het hy uiteindelik die 57ste posisie losgeskuif.
Dit het alles begin toe Raynier in graad 3 was. Sy vaardighede het sedertdien sodanig ontwikkel dat hy aan kompetisies regoor die land deelgeneem het.
Hy het reeds 'n gerespekteerde geskiedenis met skaakuitnemendheid opgebou en spog reeds met 'n eerste plek by die Mosselbaai Ope, 'n tweede plek by die Suid-Afrikaanse Jeugbyeenkoms en 'n uitmuntende eerste posisie by die Afrika Jeugbyeenkoms.
Uit 118 mededingers van 62 lande, het Raynier die 57ste plek by die toernooi behaal.
Hy het nou wel nie in Brasilië 'n eerste of tweede plek behaal, maar hy het beslis sy man gestaan in die internasionale skaakwêreld. "Dit was vir die grootste deel uitdagend, maar ook baie opwindend," het hy gesê.
Griep het hom ook oor die laaste ses rondes van die byeenkoms gepla, maar hy kon steeds met 'n telling van 5.5 uit 11 dinge aan die einde deurtrek.
Hy moes boonop ook vir sy eksamen voorberei terwyl hy in die toernooi in aksie was.
Op die vraag of hy enige strategie volg, sê hy hy speel gewoonlik aanlyn en vir die Mosselbaai-skaakklub om hom skerp te hou.
"Dit was vir hom ongelooflik om oorsee te gaan. Sy familie is so trots op hom en bly dat hy sy drome volg," sê sy ma, Genévieve Heunis.
Hy sê hy sal beslis aanstaande jaar, wanneer die volgende Jeugbyeenkoms in Durres, Albanië, plaasvind, weer sy staal wil toon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’