Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Ons voel soos melaatses, die kinders van Sonskynvallei wat van Powertown af kom, is nêrens welkom nie."
Dis die moedelose mening van 'n ouer wat probeer keer dat haar kind nie die skool verlaat nie omdat hy nie meer op Groot-Brakrivier kan skoolgaan nie.
Vir talle leerders in Mosselbaai en omstreke het toelatingskwessies bygedra tot die spanning van hul eerste skooldag van 2018.
Oorvol skole, vervoerprobleme, bekostigbaarheid van vervoer en die nie-beskikbaarheid van vakkeuses by skole waartoe leerders noodgedwonge moet skuif, het heelwat leerders en ouers op Woensdag, 17 Januarie, hoofbrekens besorg.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester raadsheer Harry Levendal, self 'n oud-skoolhoof, maan ouers in die groter Mosselbaai om onverwyld hul kinders by skole in te skryf, ongeag of daar by die betrokke skool beskikbare plekke is.
"As ouers nie hul kinders by skole inskryf nie, kan die onderwysdepartement nie 'n behoorlike prentjie vorm van die behoeftes nie, en kan daar nie behoorlike planne beraam word om die probleme op te los nie," maan raadsheer Levendal.
Hy vra dat ouers geduldig moet wees en hul kinders moet aanmoedig om skool toe te gaan.
Dit blyk dat talle skole oorval is met aansoeke en dat heelwat skole nie vir al die aansoekers plek kan inruim nie.
Ook skole in die groter Mosselbaai se landelike gebiede het probleme gerapporteer.
Sonskynvallei
Sedert 2016 het die Mosselbaai-munisipaliteit met die onderwysdepartment van die Wes-Kaapse provinsiale regering onderhandel oor die hervestiging van die inwoners van Powertown na Sonskynvallei, en veral oor die veranderde behoefte aan skoolplasings wat dit sou meebring. Inwoners van Powertown woon in 'n vloedvlakte en word vir veiligheidsredes na Sonskynvallei hervestig.
Deel van die hervestigingsprogram was departementele busvervoer wat in 2017, op aandrang en deur bemiddeling van die burgemeester deur die onderwysdepartement beskikbaar gestel is.
"Die skole waarheen ons kinders nou gedwing word om te gaan bied nie die vakke aan wat hulle tot nog toe gedoen het nie. Ek kan nie my graad 11-kind nou skuif nie. As ons geweet het ons kinders gaan daaronder ly, het ons nooit uit Powertown geskuif nie."
Hierdie busvervoer is egter in Desember 2017 gestaak, en met die aanbreek van die 2018 skooljaar het leerders oorspronklik van Powertown, maar nou van Sonskynvallei, geen skoolvervoer of heenkome nie.
Die onderwysdepartement hou vol dat die departement nie verder busvervoer vir leerders vanaf Sonskynvallei na Groot-Brakrivier beskikbaar kan stel nie.
Dit is skynbaar departmentele beleid dat leerders by skole in die naaste dorp - Mosselbaai - geakkommodeer moet word veral as daar koshuisakkommodasie beskikbaar is.
Volgens besorgde ouers is daar wel in die Hoërskool Sao Bras se koshuis akkommodasie beskikbaar, maar die skole waar hul kinders geplaas kan word het egter óf nie plek nie, óf bied nie die bestaande vakkeuses aan nie.
"My kind is graad 11, hy kan nie nou van vakke verander nie, veral nie omdat sy vakkeuses juis voorsiening maak vir sy loopbaankeuse en verdere studies," meen 'n besorgde ouer wat annoniem wil bly.
"My kind is graad 12, dis onbillik dat die kind in die finale jaar van skool moet verander," meen 'n ander ouer.
"By ons huis is drie kinders betrokke, my eie kind en my broertjie is in die laerskool en nog 'n kind is in die hoërskool. Ons het nie vaste werke nie, waar kry ons R1 500 vir skoolvervoer. Dan moet die kinders nog eet en skoolklere ook kry, sê Carina Hendricks.
Vervoer
Dit blyk dat privaatvervoer ouers R500 per leerder per maand gaan kos. Sommige ouers - ook enkelouers of grootouer-voogde - het tot drie kinders in skole in Groot-Brakrivier en meen die vervoerkoste is onbekostigbaar duur.
'n Bus wat deur die onderwysdepartement befonds word, loop volgens ouers tans bykans leeg vanaf Mosselbaai tot in Groot-Brakrivier via Powertown, maar mag na bewering nie die detour maak om die Sonskynvallei-leerders op te tel nie.
Skynbaar ry slegs sowat 12 leerders van Powertown tans per bus na skole in Groot Brak.
Kyk 'n video hieronder:
Tussentrede
Mosselbaai se burgemeester het voor die einde van die skooljaar in 2017 skriftelik die skoolvervoer en -akkommodasieprobleme wat veral leerders vanuit landelike gebiede betref weer eens onder die aandag van die LUR van onderwys, minister Schäfer gebring.
In respons op 15 Januarie, het die minister berig dat departementele beleid oor vervoer en akkommodasie nie aangepas kan word vir die behoeftes van individuele huishoudings nie.
In Sonskynvallei geld die probleme egter minstens 48 leerders.
Elizabeth Hendricks sorg alleen vir haar twee kleinkinders na haar dogter se heengaan. "My kleinkinders is nie vandag skool toe nie, Waarheen moet ek hulle stuur? Hoe moet ek die skoolgeld vir Laerskool Hartenbos betaal?"
Laerskool
Volgens die skoolhoof van Laerskool Hartenbos, mnr Barry Oosthuizen, het dié skool geen leerders op Woensdag weggewys nie en is daar plek vir leerders in alle grade.
Dit blyk egter dat 'n misverstand bestaan, want ouers van leerders van Sonskynvallei meen dat daar nie vir hul kinders plek is in dié skool en veral in spesifieke grade nie.
"Ek doen 'n beroep op ouers om hul kinders te kom inskryf sodat die werklike behoefte aan toelating behoorlik bepaal kan word. Daar is nog plek," het mnr Oosthuizen aan die Mossel Bay Advertiser berig.
Sonskynvallei se kinders wat wel Woensdag by skole in Groot-Brakrivier aangemeld het, is boonop nie van hul plekke daar verseker nie hoewel hulle daar ingeskryf is en tot nog toe daar skoolgegaan het.
Ouers van kinders wat wel Woensdag by die skool aangemeld het, het 'n skrywe van een skool ontvang wat onder meer lees: "Ons wag nog vir uitsluitsel van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ten opsigte van die toelating van leerders van Sonskynvallei, aangesien ons skool beperkte plekke het om leerders te akkommodeer."
Daarenteen word berig dat Groot-Brakrivier se skole juis bekommerd is oor dalende leerdergetalle omdat dit kan meebring dat van hul onderwysers bo-tallig verklaar word en elders ontplooi sal moet word.
Gevaar
Sommige ouers van Sonskynvallei wie se kinders tot nog toe in Groot-Brakrivier Primêr skoolgegaan het, vrees ook die gevaarlike roete wat hul jong laerskoolkinders bedags padlangs skool toe sal moet stap.
Die kinders sal die besige R328, waar die spoedgrens 80 km/h is, daagliks twee keer moet kruis en boonop etlike kilometer skool toe en terug moet stap.
"Nou is dit nog lig soggens, maar wat van in die winter wanneer dit nog donker is as hulle moet stap?" vra 'n bekommerde ma.
Sonja Macoba sê nóg die skool, nóg enige verteenwoordiger van die onderwysdepartement het hulle geadviseer oor veranderde omstandighede en die noodsaak om haar twee laerskoolleerders by Laerskool Hartenbos in te skryf. "Waar kry ons geld vir nuwe skoolklere?"
Volgens die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het die munisipaliteit ingevolge 'n spesiale program werklose mense aangestel om teen betaling die leerders in 'n voetebus daagliks na en van die skool te vergesel ter wille van hul veiligheid.
Die leerders wat egter nou steeds na skole in Groot-Brakrivier wil gaan, wend hulle tans tot taxis of gooi duim, en ouers is veral bekommerd oor laasgenoemde se veiligheid.
"Wat kan ons maak - ons kinders moet of hike, of by die huis sit. Hulle wil leer, hulle wil iets van hul lewens maak. Ons kan nie die gelde vir taxis bekostig nie, waarvan moet ons lewe?
"As ek geweet het my kind se skoolloopbaan gaan soveel probleme en gevare inhou, sou ek nooit uit Powertown verhuis het nie."
Boonop, sê ouers van Sonskynvallei, weier die Powertowners nou dat hul kinders vanaf Powertown die bus haal. "Hulle sê ons wou mos trek, nou moet ons maar sukkel.
"Dis meestal die vroue aan wie huise in Sonskynvallei toegeken is. As hierdie probleem nie baie gou opgelos word nie, gaan ons ons mans laat terugtrek na Powertown sodat ons kinders weer van Powertown af busvervoer na skole in Groot Brak kan kry. Daar is nie vir ons 'n alternatief nie."
Geen kommentaar
Nóg die Wes-Kaapse minister van Onderwys se woordvoerder, nóg die departementele woordvoerders van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het teen druktyd op skriftelike navrae van die Mossel Bay Advertiser gereageer.
Plaaslike onderwysleiers het alle navrae na die provinsiale departement verwys.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'