MOSSELBAAI NUUS - Wie sal die warm stem van wyle Margot Luyt ooit kan vergeet?
In Poskaarte uit Parys, ’n musiekproduksie wat eersdaags in Mosselbaai uitgevoer word, vorm haar stem, saam met dié van Leon Kruger en Frieda van den Heever, ’n deel daarvan.
Met Parys as die agtergrond en Franse chansons as die kwas, skilder die mezzo-sopraan Jacobi de Villiers, saam met Olga Leonard op klavier en Babette Viljoen op trekklavier, 'n meesleurende kunswerk. Kom luister hoe Afrikaans en Frans trou en drie liefdesverhale skep wat deur Jani Greeff geskryf is - verhale wat raak, roer en herinner aan hoe regte mense liefhet.
Verwag musiek van Edith Piaf, Frida Boccara en Kurt Weill.
Nadat sy haar nagraadse diploma in opera met onderskeiding verwerf het, het Jacobi de Villiers gehore in menige produksies met haar stem betower. ’n Hoogtepunt vir haar was toe sy ’n groot rol in William Kentridge se produksie Refuse the Hour gespeel het wat in Parys, Wene en Hamburg uitgevoer is.
Babette Viljoen, wat ’n boorling is van ’n klein dorpie anderkant nêrens in die Vrystaat, was deel van die Noord-Wes Universiteit se PUK-koor en Alabama-studentegeselskap. Sedert 2011 tree sy by kunstefeeste op en spog met verskeie toekennings.
Olga Leonard het haar MMus aan die Universiteit van Pretoria verwerf en haar musieklisensiaat cum laude geslaag. Sedert 2014 het Olga en Babette meer as 10 verhoogproduksies saamgestel, met die prys vir beste musikale produksie by Aardklop weggestap, en hulle spog met ’n kykNET Fiësta-toekenning. Die twee werk hard om, met integriteit, Afrikaanse poësie in musiek te toonset.
Poskaarte uit Parys het luide applous ontlok by kunstefeeste soos Woordfees, Suidoosterfees en Hessequa Harmonie.
Dit is opwindend om dit nou ook in Mosselbaai te kan aanbied. Die uitvoering vind op Saterdag, 16 Julie om 19:30 in die Dias Museum plaas.
Deure open 18:30. Besprekings, teen R150 per persoon, kan by Abé Meintjes gemaak word (083 268 3718).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'