MOSSELBAAI NUUS - "Hulle het net gekom vir die bike, daar is geen twyfel by my nie."
Só meen Thys van Staden, een van twee onlangse slagoffers van 'n gesteelde motorfiets in die Mosselbaai-omgewing.
Twee BMW 1200GSA LC-motorfietse is in die oggendure van Sondag, 16 Maart, gesteel - een op Mosselbaai en een in Fraaiuitsig.
Van Staden se motorfiets is by sy woning in Fraaiuitsig gesteel ná die motorhuis se deur oopgebreek is.
Hy sê wie ook al die motorfiets gesteel het, was daar vir 'n spesifieke rede, aangesien hulle maklik toegang tot die huis ook kon kry deur die motorhuis - maar nét die motorfiets is weg.
Hy het die fiets tweedehands gekoop, maar dit was nog baie nuut, met ongeveer 16 000km op en 'n geldwaarde van so R200 000 - Van Staden het dit nog nie eers vir 'n jaar lank gehad nie.
Ten spyte van die teenspoed, het Van Staden die polisie en ander betrokke wetstoepassers geprys vir hul uitstekende diens.
Thys van Staden se motorfiets buite die Hotel Charles op Klipplaat.
Die tweede motorfiets is by Nautica-woonstelle op Mosselbaai gesteel, het die kompleks gevestig. Van die palisades by Nautica is oopgebuig om by dié motorfiets uit te kom. Die eienaar kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.
Polisiewoordvoer sers Chris Spies sê die George-voertuigmisdaadondersoekeenheid ondersoek sake van diefstal van 'n motorvoertuig, diefstal en besit van gesteelde eien-dom na dié twee voorvalle.
"Die omstandighede om die insidente word nog ondersoek."
Intussen het die polisie op 17 Maart omstreeks 04:00 'n man in KwaNonqaba gearresteer ná hulle inligting ontvang het van 'n voertuig met vermoedelike gesteelde eiendom daarop.
"Die voertuig is opgespoor en terwyl dit deursoek is, het polisielede motorfietsonderdele daarin gekry."
'n Man is gearresteer vir die besit daarvan. Die verdagte bly tans in aanhouding en sal na verwagting vandag, 19 Maart, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn. Die uitkoms van sy verskyning is nog nie bekend nie.
Mossel Bay Advertiser het die polisie gevra of hierdie 'n tendens is, aangesien daar glo in ander dele van die land sulke voorvalle was. Spies sê geen soortgelyke sake is onlangs in die area aangemeld nie en hulle is nie in 'n posisie om inligting oor ander provinsies bekend te maak nie.
Die Tuinroete-distrikskommisaris, gen-maj Phumzile Cetyana het alle belanghebbendes geprys wat onvermoeid gewerk het om die voertuig op te spoor.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het op 17 Maart gesê die JOC berig dat hulle 'n telefoniese versoek ontvang het vanaf die SAPD aangaande 'n gesteelde motorfiets met betrekking tot Fraaiuitsig.
"Sekuriteitskamerabeeldmateriaal is nagegaan vir die tydperk aangevra. Hierin word 'n motorfiets opgemerk waar dit oor 'n kruising in Klein-Brakrivier gaan. Vanweë beligting is die motorfietsryer nie duidelik sigbaar nie. Die motorfiets kan nou gemonitor word op Navic nadat dit as gesteel aangegee is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’