MOSSELBAAI NUUS - Met drie enkelsnitte reeds vrygestel sê countrysanger Liefvlam, ofte wel Kayleigh Stander (20), dat ’n album beslis deel van haar groter prentjie is.
Stander het in Mosselbaai grootgeword en by Laerskool Hartenbos en toe Curro Mosselbaai skoolgegaan.
“Ek het onlangs na my kêrel in Limpopo toe verhuis, maar ek kuier steeds gereeld in my tuisdorp. My familie woon nog in Mosselbaai; dit is ’n plek wat ’n mens nooit kan vergeet nie,” sê dié jong sanger.
Sy sê sy het van ’n baie jong ouderdom af al ’n passie vir musiek gehad en nog altyd gesing, maar haar loopbaan het eers in November 2025 ernstig begin toe sy haar eie musiek begin vrystel het.
“Die reaksie tot dusver het my regtig verras en gemotiveer om dit voltyds na te jaag. Ek het my pa in 2017 verloor, en hy was my grootste inspirasie vir musiek. Sy bynaam vir my was 'Songbird', en na agt jaar het ek besef hy sou nooit wou hê ek moes opgee op my talent nie.”
Uit haar drie enkelsnitte, “Ek het”, “Crazy” en “Ek mis jou nou”, lê laasgenoemde dus baie na aan haar hart.
“Ek het dit vir my pa geskryf. Dit is vir my besonders omdat dit so eerlik en eenvoudig is.
“Die feit dat dit reeds meer as 11 000 streams in so ’n kort tyd bereik het, maak dit nog meer spesiaal, want dit wys mense kan daarmee identifiseer.”
Stander vertel die ‘Lief’ in haar verhoog-naam Liefvlam moes eintlik oorspronklik ‘Lied’ gewees het, maar met haar eerste vrystelling het daar ’n spelfout ingeglip wat sy nie kon verander nie.
Só is Liefvlam toe gebore, ’n naam waarmee sy gelukkig doodtevrede is. “Ek voel vandag dit pas my eintlik beter as mens en as kunstenaar. Die naam verteenwoordig vir my liefde en emosie, iets wat brand en bly leef, selfs lank nadat iets verby is. Dit pas by die tipe musiek wat ek maak.
“Countrymusiek vertel stories op ’n baie eerlike en rou manier, en dit is iets waarmee ek baie connect. Ek wou nog altyd daardie styl vat en dit in Afrikaans doen - dit voel vir my soos ’nnatuurlike manier om emosie oor te dra.”
In hierdie stadium sit sy soveel tyd en energie as moontlik in haar musiek. “En die groei wat ek nou sien, wys vir my dit is moontlik [om daarvan ’n voltydse loopbaan te maak].”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’