MOSSELBAAI NUUS - 'n Oudpolisieman van Mosselbaai, Cassie Marx (63), wat ná twee afsonderlike motorongelukke gestremd gelaat is, se grootste wens tydens sy onlangse besoek aan sy tuisdorp was eenvoudig: om weer sy hare by die Laufs-broers te laat sny.
Marx se gesin het in Mosselbaai kom woon toe hy een jaar oud was, en hy het hier skoolgegaan.
Van kindsbeen af is sy hare by die bekende Laufs-manshaarkappers in Cuffstraat gesny, 'n tradisie wat hy nooit sal vergeet het nie.
Die haarkappery, wat deur die broers Charles en Willem Laufs besit word, is al dekades lank 'n bekende naam in die dorp.
Marx was slegs 21 toe hy in 1987 in 'n ernstige motorongeluk in Kaapstad betrokke was.
Volgens sy suster, Melanie Botha, 'n boorling van Mosselbaai, het hy 'n breinbesering opgedoen wat hom gestremd gelaat het. "Hy kon nie meer praat nie, en het na Mosselbaai verhuis waar hy steeds kantoordienste by die Mosselbaai-polisiestasie verrig het," sê sy.
Skaars vyf jaar later het 'n tweede ongeluk in Stilbaai sy lewe nóg meer ingrypend verander. Marx was toe daar by die plaaslike polisiestasie aan diens.
"Tydens die tweede ongeluk is sy mobiliteit só erg aangetas dat hy van 'n rolstoel afhanklik geword het. Hy het spasmas gehad en kon nie meer self staan nie," sê Botha.
In albei ongelukke was hy 'n passasier. Marx woon tans permanent in 'n huis vir gestremdes in Gqeberha, maar sy verbintenis met Mosselbaai bly sterk.
Volgens Botha was dit vir die seuns in hul familie nog altyd 'n gegewe dat hul hare by die Laufs gesny word.
"Toe hy die afgelope week hier kom kuier het, was dit sy een begeerte - om weer sy hare by hulle te laat sny." Die familie het hom na die bekende haar-kapper geneem, waar hy met ope arms ontvang is.
"Hy was só in sy noppies. Sy hare was vir die eerste keer in 'n lang tyd weer perfek gesny," sê Botha.
Die besoek het nie daar geëindig nie. Die familie het Marx ook na die Punt geneem vir 'n draairoomys. "Hy was so bly om weer hier te wees en om die ooms by die haarkappers te sien."
Marx is intussen terug na die huis vir gestremdes, maar sy onlangse besoek het weer eens gewys hoe iets so eenvoudig soos 'n haarsny groot vreugde kan bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’