Die voorval het laat Maandagoggend in hul woning in Sandhoogteweg gebeur toe die een verdagte, wat bekend was aan die Barnards omdat hy vantevore vir hul tuinwerk gedoen het, by die woning vir werk gevra het.
Na bewering het mev Barnard, wat alleen tuis was, aan hom gesê dat sy nie vir hom werk het nie. Sy is kort hierna deur een verdagte van agter aangeval terwyl sy niksvermoedend in die sitkamer gesit het.
Die man het haar gedwing om die voordeur oop te sluit, waarna die ander verdagte ook die huis betree het. Die vermoede bestaan dat die verdagte toegang deur 'n slaapkamervenster verkry het.
Na bewering is mev Barnard hierna wreed aangerand, gewurg en gedwing om 'n kluis in die huis oop te sluit. Volgens inligting het sy haar bewussyn verloor, waarna sy na 'n onbekende tydperk wakker geword het met bloed wat by haar nek uitspuit - die verdagtes het haar met 'n mes in die nek gesteek, vermoedelik vir die dood agtergelaat en met verskeie gesteelde goedere en 'n groot bedrag kontant gevlug.
Mev Barnard kon daarin slaag om haar man te bel, waarna hy huis toe gejaag het en sy geskok en bebloed op hom by die voorhek gewag het.
'n Verslae mnr Barnard het Dinsdagoggend aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die familie in skok is. "My vrou het verskriklik gelyk.
Dit was nie nodig om haar so seer te maak nie. Dit lyk of hulle haar wou seermaak om dood te maak."
Teen druktyd is mev Barnard uit die hospitaal se intensiewe eenheid ontslaan en was sy in 'n stabiele toestand.
Deurbraak
Intussen het lede van die Groot-Brakri-vier SAPD, Ao Gerhard Crause, Ao Gaylord Muller, Ao Boekies Kotze en Ao Ge-rald Rabie kort na die voorval na die twee verdagtes begin soek.
Hulle het op Dinsdagaand een van die verdagtes, wie se naam deur die Suid-Kaap Polisiewoordvoerder bekend gemaak is as Joseph Motlomelo (46), op die R102-pad in die rigting van George vasgetrek.
'n Groot bedrag kontant, wat vermoedelik aan die Barnards behoort, is in sy besit gevind. Hy is gearresteer en het teen druktyd in die Mosselbaai Landdroshof verskyn.
Die ander verdagte, Lionel Kennedy, is op Donderdag, 21 Augustus in Groot-Brakrivier vasgetrek. Hy sal op Maandag, 25 Augustus in die Hof verskyn.
Klik hier vir 'n verwante artikel.

Een van die verdagtes, Lionel Kennedy, is slegs drie dae na die
aanval deur lede van die Groot-Brakrivier SAPD vasgetrek.
'n Sykant van die huis waar 'n inwoner van Groot-Brakrivier wreed aangeval is.
Polisie het die gebied voor die Barnards se huis afgesper.
Die huis waar die aanval plaasgevind het.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'