MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Op 91-jarige ouderdom verwag die wêreld nie meer fisies baie van jou nie, wat nog te sê van drie (soms vier) maal 'n week gholf speel!
Annette Meyer word op 12 September 92, en het al sedertdie 1970's 'n passie vir dié spel.
Meyer is al meer as 50 jaar lank 'n lid van die Mosselbaai-gholfklub.
Toe sy net daar aangesluit het, mag vroue nie eens op Woensdae en Saterdae gespeel het nie - hierdie reël het gelukkig intussen verander.
Meyer se man, Alex, het eerste by die klub aangesluit, waarna sy gevolg het.
Die paartjie het mekaar as Suid-Afrikaners in Engeland ontmoet, in 1960 daar getrou, en dieselfde jaar nog na hul tuisland teruggekeer. "My man het gesê hy bring my na die mooiste dorp in Suid-Afrika."
Hier het hulle later in 5de Laan huis gebou, maar sy woon nou in Santos Haven. Alex is in 2019 oorlede.
Annette het voor die gholfgogga gebyt het, tennis en muurbal ook geniet, maar nou kry gholf al die aandag.
In 'n stadium was haar laagste voorgee agt, nou swyg sy maar laggend oor wat dit deesdae is.
Sou jy na die name teen die gholfklubmure kyk, is sy daar geen vreemdeling nie. Sy was al 14 maal die klubkampioen, het al twee kolhoue geslaan én was al 'n paar keer klubkaptein. In 'n stadium was daar min vroue wat in Mosselbaai gespeel het, toe gaan speel sy maar in George - en word dáár sommer ook twee maal klubkampioen.
Annette Meyer wys na waar sy vier jaar agtereenvolgend klubkampioen was. Foto: Verskaf
Maar sy speel gholf om gholf te speel, sê Annette. Die getalle en posisies maak nie vir haar so erg saak nie. "Ek doen dit vir die oefening en om buite in die sonlig te wees. Jy is buite in die buitelug!"
VIDEO: Eerste putjie hier kom ons!
Sy geniet ook die plante en dierelewe vreeslik, en het selfs 'n fotoalbum met verskillende blomme wat eens op die klub se bane te sien was. Sy sê ook Alex het op 'n tyd minstens 42 verskillende voëlspesies hier geïdentifiseer.
Maar, sê sy, weens die goeie toestand van die baan is daar nou minder saad vir hulle, en sien 'n mens hulle vandag bitter min.
Sy het tot en met verlede jaar nog die eerste nege putjies gestap, en die tweede nege saam met iemand in 'n karretjie gery. Sy ry nou heelwat meer in die gholfkarretjie, maar stap steeds ente.
Annette is gereed vir afslaan saam met die manne. Foto: Linzetta Calitz
En wanneer sy nie met Boekiesklub of haar leeskring besig is nie en andersins verveeld by die huis is, gaan sy graag na die klub se oefenbof toe.
Annette sê sy het 'n baie hoë agting vir die bestuur by die Mosselbaai-gholfklub. "Ek kan nie genoeg praat oor die atmosfeer en fantastiese gees wat daar heers nie. En soos ons slagspreuk sê, 'See the sea from every tee.' Ek kan my tot vandag toe nog aan die see verkyk. Ek kan nog nie moeg raak daarvoor nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’